AfriForum-tak in Vryburg stel ultimatum oor riool- en waterlekke in strate


Die AfriForum-tak in Vryburg het op Dinsdag, 22 Mei, ’n ultimatum aan die Naledi Plaaslike Munisipaliteit gestel om onmiddellik te begin om water- en rioollekke in dié dorp te herstel. Die munisipaliteit het tyd tot 4 Junie 2018 om met ’n werkbare plan vorendag te kom vir die volhoubare instandhouding van die dorp se water- en rioolstelsels. Indien daar nie aan dié versoek voldoen word nie, sal die plaaslike AfriForum-tak ’n kontrakteur kry om die werk te doen en die koste van die munisipaliteit verhaal. Daar sal dan ook strafregtelike klagtes teen die munisipale bestuurder gelê word, aangesien die riool ’n gesondheidsrisiko vir inwoners inhou.
Die vermorsing van water in Vryburg en die gesondheidsrisiko van rioolpype wat bars en riool in die strate laat afvloei, is ’n geruime tyd reeds ’n  probleem vir die inwoners van Vryburg. Dit is al deur verskeie mense aangemeld, maar geen aksie word deur die munisipaliteit geneem nie. Die rede wat hiervoor gegee word, is dat die munisipaliteit nie onderdele kan bekom nie, aangesien geen verskaffer meer aan hulle onderdele op rekening wil lewer nie.

Alta Pretorius, AfriForum se streekskoördineerder vir Stellaland, meen dat die munisipaliteit genoeg tyd gehad het om aan hierdie probleem aandag te gee. “Regsaksie is altyd die laaste opsie, maar ons sien nie werklik ’n ander uitweg nie,” sê sy.

Soortgelyke plasings