|

AfriForum-takke in Pretoria sê hulle sal self vullis verwyder

Die einde van die onwettige staking deur werkers van die Tshwane-metro is nog lank nie in sig nie en intussen hoop vullis op in die strate van Pretoria. Verskeie AfriForum-takke het egter besluit om die “ons sal self”-denkwyse uit te leef en óf vullis self te verwyder óf werkers wat wel diens doen, veilig te hou.

Die afgelope Saterdag is 2 000 asblikke se vullis in Moreleta Park binne sewe ure verwyder. AfriForum het ’n privaat vullisverwyderingsmaatskappy aangestel om dié woonbuurt in die ooste van Pretoria baie skoner en meer higiënies as ’n dag vroeër te laat. In sommige gevalle was vullis vier weke laas hier verwyder.

AfriForum het Saterdag gehelp om vullis in Moreleta Park, Pretoria, te verwyder.

“AfriForum verstaan dat die huidige onwettige staking net nóg meer druk op die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit plaas om dienste in hierdie metro te lewer. Dit is wel binne ons plaaslike tak se vermoë om hierdie verligting en hulp aan die gemeenskap te bied,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.

“Dit is egter net ’n tydelike oplossing. Alle AfriForum-strukture in die Tshwane-metro sal poog om oplossings binne hul vermoë te vind om saam met rolspelers te werk om te verseker dat ons gemeenskappe nie agteruitgaan as gevolg van onwettighede nie.”

Vullisverwydering in die Tshwane-metro het oor die afgelope sowat twee maande amper heeltemal tot stilstand gekom. Waar werknemers wel dienste wou lewer, is hulle dikwels met geweld van stakende munisipale werkers begroet en verskeie vragmotors is uitgebrand.

Dit is daarom irrasioneel om te eis dat inwoners moet betaal vir ’n diens wat nie gelewer word nie.

AfriForum se Garsfontein-en-Faerie Glen-tak het, op versoek van Betsie Basson (wyksraadslid vir wyk 45 in Pretoria), die hulp van Forum Sekuriteit, Golan Tactical en ’n privaat kontrakteur ingeroep en op 19 Augustus ook vullis in Garsfontein verwyder.

Pretoria-Wes-taklede het op hul beurt ook verlede week vullisvragmotors vergesel om seker te maak vullisverwydering in Danville kan veilig geskied. “Gemeenskapslede wat reeds hul sente omdraai, moet nou nog dieper delf om self in te staan vir dienste wat die Tshwane-metro eintlik moet lewer. Die Pretoria-Wes-tak het egter met hierdie optrede gewys watter reuse-invloed selfdoen-inisiatiewe op die gemeenskap kan hê,” verduidelik Dewet Ungerer, AfriForum se koördineerder vir Groter Pretoria-Suid.

AfriForum het intussen geëis dat die Tshwane-metro nie rekeninge vir vullisverwydering aan inwoners stuur nie. Dié burgerregteorganisasie meen dis onbillik dat inwoners onder die huidige omstandighede hierdie heffing moet betaal.

“AfriForum besef dat die metro in ’n baie moeilike situasie is as gevolg van die staking, maar hy het steeds ’n grondwetlike verpligting teenoor inwoners om volhoubare dienste soos vullisverwydering te lewer. Dit is daarom irrasioneel om te eis dat inwoners moet betaal vir ’n diens wat nie gelewer word nie,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se raadgewer vir Plaaslikeregeringsake.

In ’n onlangse vergadering met die metro het AfriForum voorgestel dat inwoners net 50% van die normale vullisverwyderingstarief betaal. Die 50% wat wel betaal word, kan aangewend word om stadsreiniging te befonds. Coetzee voer aan dat die metro se verordening op vullisbestuur voorsiening maak vir inwoners om van die metro te versoek om hul munisipale vullisverwyderingsdienste te kanselleer. ’n Goeie rede moet egter voorgehou word wanneer so ’n versoek ingedien word en Coetzee sê die gesondheidsrisiko wat die sporadiese vullisverwydering inhou, kan as rede aangevoer word.

Soortgelyke plasings