AfriForum-takke oorhandig wenslys aan Rand West Plaaslike Munisipaliteit


Die AfriForum-takke van Randfontein en Westonaria het op 7 Maart 2017 ’n wenslys aan Larry Steyn, die hoof operasionele bestuurder van die Rand West Plaaslike Munisipaliteit, oorhandig.
Dít volg nadat dié takke verskeie gemeenskapsprobleme en -prioriteite geïdentifiseer het waaraan hulle graag deur die loop van die jaar wil aandag skenk.

“Tydens ons vergadering het Steyn kennis geneem van die probleme wat ons in die wenslys noem en onderneem om dit by die munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) te voeg en die nodige aksies te neem,” sê Mike van Deventer, die voorsitter van AfriForum se Westonaria-tak.

Steyn het gevolglik ooreengekom dat die munisipaliteit binne 14 werksdae vanaf die datum van die vergadering, formele terugvoer aan AfriForum sal voorsien op beide takke se wenslyste. Hy het ook die onderskeie departemente se kommunikasiekanale aan AfriForum beskikbaar gestel.

“Dit is goed om te weet dat die munisipaliteit wel met AfriForum wil hande vat,” sê Matiam van Vuuren, voorsitter van AfriForum se Randfontein-tak.
“AfriForum wil gemeenskapslede aanmoedig om by die opstelproses van die munisipaliteit se GOP betrokke te raak,” voeg Van Vuuren by.

Soortgelyke plasings