AfriForum-takke in Tshwane oorhandig plaasaanvalmemorandum aan SAPD


AfriForum se takke in die Tshwane Metro het op Dinsdag 21 November 2017 memorandums aan al die polisiestasies in dié metro oorhandig om die fokus op plaasaanvalle te vestig.
Die memorandums is by polisiestasies in die volgende gebiede oorhandig: Akasia, Pretoria sentraal, Sunnyside, Brooklyn, Lyttelton, Pretoria-Wes, Wierdabrug, Silverton, Garsfontein, Hercules, Bronkhorstspruit, Pretoria-Noord, Sinoville, Villieria, Hammanskraal, Cullinan, Olifantsfontein, Moot, Boschkop, Wonderboompoort, Eersterust, Erasmia, Kameeldrift en Laudium. Al die polisiestasies het die memorandums positief ontvang.

“Die aantal plaasaanvalle en -moorde het vanjaar onrusbarend gestyg en ons wil graag saam met die polisie werk om te verseker dat dít daadwerklik beveg word. Plaasaanvalle moet geprioritiseer word,” sê Lambert de Klerk, distrikskoördineerder vir AfriForum in Gauteng-Noord.

AfriForum poog tans om meer tak- en veiligheidstrukture in hierdie metro te stig en versterk.
AfriForum doen ’n beroep op die verskeie gemeenskappe in die Tshwane Metro om by die plaaslike takke betrokke te raak en aktief deel te neem aan die aktiwiteite van die buurtwagte. Vir meer inligting hieroor, stuur ’n e-pos aan lambert@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings