|

AfriForum-takke waarsku departement om paaie te onderhou

AfriForum se Vryheid- en Paulpietersburg-takke het op 9 Desember ’n brief aan die Departement van Vervoer in Vryheid gerig wat die departement waarsku om die gevaarlike slaggate op die R33- en R34-paaie te herstel. Dit volg nadat oneindige klagtes deur organisasies en lede van die gemeenskap nie aangehoor word nie.

“Die R33 van Piet Retief is een van die vier hoofroetes na KwaZulu-Natal vanaf die noorde. Die dorpe op hierdie paaie gaan onder finansiële verliese gebuk omdat inwoners ander roetes oorweeg,” sê Eugene van Aswegen, distrikskoördineerder vir KwaZulu-Natal.

Die vervoer van steenkool deur swaar vragmotors na Richardsbaai vererger die toestand van die paaie. Klein slaggate word agterweë gelaat en word later groot gate wat die departement op die lange duur meer kos om te herstel.

“Dit is asof die departement eers nadat daar ongelukke plaasvind sy verpligting besef. Ons kan nie aanvaar dat die departement ná soveel klagtes nie van die slaggate bewus is nie. Verder is daar geen waarskuwingsborde vir motoriste nie. Hierdie optrede grens aan opsetlike nalatigheid,” sluit Van Aswegen af.

AfriForum het die departement versoek om voor 15 Desember 2022 sy herstelplanne bekend te maak en ook aan te dui watter paaie gelys is om oorgebou te word.

AfriForum sal nie huiwer om die hof te nader om die departement te dwing om sy verpligtinge na te kom nie.

Soortgelyke plasings