|

Skokkende onthullings tydens borgaansoek van gebeure wat tydens Clover-moord afgespeel het

Nkosinathi Mbatha en Mohale Shokane, die twee beskuldigdes wat aangekla word van onder meer die moord op Terence Tegg, die oud-Recce wat tydens die Clover-staking dood is, asook poging tot moord op J.J. Cassanga, een van die wagte wat ernstige beserings tydens die brutale aanval opgedoen het, het vandag aansoek gedoen om borgtog in die Tembisa Landdroshof. AfriForum se privaatvervolgingseenheid staan tans vir Michelle Bebbington by wat verloof was aan Tegg, asook die Cassanga-familie. Die staat het die aansoek teengestaan en vir kaptein Robert George Seckle, die ondersoekbeampte in die saak, as getuie geroep.

Seckle het getuig dat die slagoffers in ’n lokval gelei is en dat Tegg brutaal met klippe doodgegooi en -geslaan is. Hy het ook getuig dat van die stakers wat op 17 Februarie 2022 met drie busse by die Clover-perseel in Olifantsfontein opgedaag het, ook probeer het om ’n sekuriteitsbakkie op Tegg se liggaam om te rol. Verder is beide Tegg en Cassanga van hul haelgewere beroof en Tegg se beursie is ook te midde van die aanval gesteel.

Ná die aanval op Tegg, kon drie ander sekuriteitswagte wat die aanvallers met rubberkoeëls probeer afweer het, die perseel binnekom. Seckle het getuig dat die aanvallers hulle agtervolg het waarna hulle Cassanga platgetrek, hom van sy haelgeweer beroof het en hom herhaaldelik met die kolf van die geweer oor die kop geslaan het terwyl die aanvaller die geweer aan die loop vashou.

Seckle het ook getuig dat die verdagtes nié op borgtog vrygelaat moet word nie, omdat daar nog verdere verdagtes is en dat die name van sy getuies nou bekend is. Dit beteken dat die beskuldigdes moontlik getuies kan intimideer, bewyse vernietig, ander getuies waarsku en ook ’n vlugrisiko inhou. Hy was onwrikbaar in sy getuienis dat die staat ’n sterk saak het en dat ’n skuldigbevinding waarskynlik is. Hy is egter ná die verrigtinge buite die hof deur die ondersteuners van die beskuldigdes gedreig.

“Ons sal voortgaan om vir Michelle, die Tegg-familie en die Cassanga-familie by te staan, asook om saam met die ondersoekbeampte en Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) te werk om te verseker dat geregtigheid geskied. Die getuienis wat vandag in die borgaansoek gelei is, is werklik skokkend en dui op die brutaliteit van die aanval en dat die slagoffers doelbewus in ’n lokval gelei is met die uitsluitlike doel om hulle leed aan te doen,” sê adv. Nel.

Die borgaansoek sal op 29 Maart 2022 hervat.

Soortgelyke plasings