|

AFRIFORUM-TAKKE WYS HUL GROEN VINGERS MET OPRIG VAN GROENTETONNELS

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

AfriForum-takke begin al hoe meer om eienaarskap oor hul gemeenskappe se voedselsekuriteit te neem met die plant en uitbreiding van groentetuine en -tonnels.

Die burgerregteorganisasie het verlede jaar hande met Helpende Hand en verskeie ander instansies gevat om kospakkies, en waar moontlik vars produkte, aan gemeenskappe te skenk wat onder die streng inperkings van 2020 gebuk gegaan het. Gemeenskappe het egter besef dat ’n meer volhoubare plan nodig is.

Daarom is groentetuine in dorpe soos Christiana, Bethal, Bloemhof en Orania nou aan die orde van die dag en kospakkies en maaltye is met skenkings van grond, saad en gereedskap vervang.

Die AfriForum-tak in Christiana het op 16 Junie 2021 begin werk aan ’n volhoubare groentetuin by die Heil-Lof-sentrum. AfriForum het reeds in 2020 ’n paar groentebeddings by dié sentrum geplant en daar is nou in samewerking met Simply African Seed Company ’n tonnel opgerig en nog twee tonnels word beplan om voedselsekuriteit reg deur die jaar te verseker.

Saad wat deur AfriForum geskenk en geplant is, sluit in beet, wortels, bone, tamaties, kool, waatlemoen, pampoen, sprietuie, uie, blaarslaai, broccoli, eiervrug, kiwivrug, aarbeie, turksvye, Brusselse spruitjies, lemoenpampoentjies en soetrissies.

“Dit is vir AfriForum ’n besondere voorreg om deel van die groentetuinprojek te wees. Hierdie is ’n volhoubare projek wat nie net voedsel voorsien nie, maar ook sorg dat die plaaslike AfriForum Jeugvleuels betrokke raak. Dit is immers AfriForum se jeug wat in hierdie betrokke dorpe in die groentetuine werk en ook die plantwerk doen,” sê Gerhard Nieuwoudt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

’n Groep flukse vroue uit die plaaslike gemeente en gemeenskap van Bloemhof het in Mei vanjaar weer nuwe saad geplant in hul groentetuin wat saam met die Volle Evangelie Kerk op die dorp bestuur word. Dié groentetuinprojek is in 2020 van stapel gestuur en verseker voedsel reg deur die jaar en sorg dat die kerk of AfriForum nie vir borge of donasies hoef te vra nie.

Verder het die Bethal-tak ook die eerste aanplantings in hul groentetuinprojek gedoen en meer as 2 000 plantjies geplant. In September 2020 is die eerste skadunette oor dié 1 000 m²-grond gespan en hierdie projek gaan nog verder uitbrei soos die seisoen verloop.

Marilé Nieuwoudt, sekretaris van AfriForum se Bethal-tak, verduidelik dat die groente in vier siklusse geplant gaan word sodat daar regdeur die jaar groente beskikbaar is. “Dié projek is al voor die inperking beplan, maar tydens die inperking is bewys dat selfdoenprojekte soos dié belangriker as ooit tevore is. Dit is gegrond op die beginsel dat dit beter is om mense te leer om vis te vang eerder as om net vir hulle ’n vis in die hand te stop. Voedsel moet op volhoubare en selfstandige wyse verbou word om mense in tye van nood by te staan. Dit is veral in onseker tye dat skenkers sukkel om voor te bly.”

AfriForum is ook tans besig met ’n sitrusprojek en is ook in die proses om groentetonnels in Orania op te rig vir die organisasie se boer tot bord-projek. Dié projek is geloods om ’n produksielyn te skep wat strek van die vars produk (wat direk van die boer verkry word) tot op die einde waar dit afgelewer word by families wat hulp nodig het. Alle produkte en dienste is daarop gemik om Afrikaners te ondersteun deur werk te verseker, inkomste te genereer en werk te skep.

Soortgelyke plasings