|

AFRIFORUM TEATER HOU SPESIALE VERTONING VIR KLANKTEGNIKUS MET KANKER

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Klanktegnici is dikwels die onbesonge helde van die vermaaklikheidsbedryf wat hard agter die skerms werk om te sorg dat kunstenaars op hul heel beste klink.

Verskeie kunstenaars vanuit die Afrikaanse musiekbedryf en die AfriForum Teater het egter besluit om een van dié geliefde helde, Johan Opperman, by te staan en fondse in te samel vir kankerbehandeling wat hy dringend moet ondergaan.

Johan en sy vrou, Esmé. Foto: Verskaf.

Opperman is onlangs met miëlodieplastiese sindroom (M.D.S), ’n aggressiewe bloedkanker wat die produsering van bloedselle versteur, gediagnoseer.

AfriForum Teater bied op 31 Augustus ’n spesiale “Woes-vertoning” aan, waar van sy vriende in die musiekbedryf, onder andere Appel, Ricus Nel, Irene-Louise van Wyk en ADAM, gaan optree. Woes is ’n vermaak- en interaktiewe program wat fondsinsamelingsprojekte doen deur middel van lootjieverkope en regstreekse veilings.

Johan is ‘n geliefde klanktegnikus en werk onder meer met kunstenaars soos Ricus Nel en Jannie Moolman. Foto: Verskaf.

Die nodige medikasie en behandeling kan Opperman se behoefte aan bloedoortappings verminder en verhoed dat dié spesifieke kanker tot leukemie ontwikkel. Die behandeling kos egter sowat R170 000 per maand en Opperman moet minstens drie maande behandel word, wat beteken hy het meer as R500 000 nodig.

Opperman en sy vrou Esmé woon in Centurion en is die trotse ouers van twee laerskoolkinders. Nes ander kunstenaars in die vermaaklikheidsbedryf het sy loopbaan én finansies ’n harde knou weens COVID-19 en die inperking gekry, maar vriende en kollegas vertel dat hy en sy vrou “nooit ophou glimlag het nie”.

Hy word deur kunstenaars soos Dozi as ’n “meesterklanktegnikus” beskryf en stap ook die afgelope 10 jaar ’n pad met die sanggroep ADAM, wat in ’n onlangse Facebook-plasing hom as die “gom van die groep” en “die vriendelikste en nederigste persoon” beskryf het.

Hy word deur kunstenaars soos Dozi, as ’n “meester klanktegnikus” beskryf. Foto: Verskaf.

Hierdie spesiale vertoning word deur Jaco Van Dyk en Hammie Wessels van Woes aangebied en slegs ‘n paar tafels word aan die publiek beskikbaar gestel om die vertoning te geniet en aan die veiling deel te neem. Dié vertoning gaan ook regstreeks gestroom word.

Alle fondse wat uit kaartjieverkope, lootjies en veilings gegenereer word, sal ten volle aan Opperman geskenk word. Die AfriForum Teater gaan ook R10 000 aan Opperman skenk.

Kliek hier om kaartjies te koop, of ondersteun sy Back a Buddy-veldtog hier.

Soortgelyke plasings