| |

Noue samewerking tussen AfriForum en Malmesbury-SAPD verwag ná onlangse suksesse

Die Malmesbury-gemeenskap kan voortaan uitsien na noue samewerking tussen die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die AfriForum-strukture op dié dorp. Dit volg nadat die AfriForum-buurtwag in Malmesbury, wat net onlangs in Oktober 2023 gestig is, reeds goed op dreef is en al verskeie suksesse behaal het. Buurtwaglede het die SAPD al onder meer tydens optogte in die dorp ondersteun, asook ná ’n diefstal op ’n plaas toe die misdadigers te voet gevlug het. Die Malmesbury-buurtwag het ook al vermeende inbrekers vasgetrek.

Lede van die AfriForum-tak en -buurtwag in Malmesbury het op 30 Januarie ’n hand van vriendskap uitgereik na kol. Luthanda Nosilela, die nuwe bevelvoerder van die Malmesbury-polisiekantoor. Riaan Muller (voorsitter van AfriForum se Malmesbury-tak), Marius van Zyl (ondervoorsitter van AfriForum se Malmesbury-tak) en Henk Dreyer (leier van AfriForum se Malmesbury-buurtwag) het samesprekings met Nosilela en van die sektorbevelvoerders gehou. Gedurende die vergadering is die redes vir die stigting van die AfriForum-tak in Malmesbury bespreek en hoe samewerking met die SAPD die dorp kan bevoordeel. AfriForum is bereid om met die SAPD en bestaande veiligheidstrukture in ’n vennootskap saam te werk en wil graag groter samewerking, wat die deel van inligting, infrastruktuur en gesamentlike operasies insluit, bevorder.

AfriForum lei sy buurtwaglede streng op en verskaf riglyne waarbinne hulle moet optree. AfriForum se provinsiale en nasionale netwerke, tesame met sy protospanne, is ook op bystand indien nodig. Traumaberading, noodhulp, regsdienste, opleiding en toerusting vorm deel van die pakket aan die AfriForum-buurtwagte.

Nosilela het AfriForum se aanbod verwelkom en dié burgerregteorganisasie van sy en die SAPD se samewerking en ondersteuning verseker. Enkele sake en probleme van plaaslike belang is reeds bespreek en AfriForum het versoek dat hy ingeskakel word by toekomstige gesamentlike veiligheidsprojekte. 

“AfriForum fokus daarop om binne die bestaande regsraamwerk op te tree in samewerking met alle eensgesinde organisasies en is dus dankbaar dat die vergadering in ’n gees van samewerking geskied het. Ons wens kol. Nosilela ook alle sukses en geluk toe as die nuwe bevelvoerder van die Malmesbury-polisiekantoor,” sê Muller.   

Lede van die publiek word aangemoedig om by hul naaste AfriForum-buurtwag aan te sluit om sodoende hul omgewing te help beveilig. Skakel Dreyer by 083 448 1400 of stuur ’n e-pos aan malmesbury.bw@afriforumtak.co.za vir betrokkenheid by die Malmesbury-buurtwag.

Soortgelyke plasings