| |

Ekurhuleni-vullisterreine ontoeganklik; AfriForum bring PAIA-aansoek

Die AfriForum-tak in Brakpan het op 26 Junie ’n PAIA-aansoek aan die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit gerig om inligting te bekom rakende boetes uitgereik asook finansiële state en spandering met betrekking tot vullisterreine in Ekurhuleni.

Afhangend van wat hierdie inligting oplewer, sal AfriForum sy regspan konsulteer om die volgende stappe te bespreek.

AfriForum oudit jaarliks vullisterreine in dorpe en stede waar dié organisasie se takke geleë is. Die data ingesamel word dan in ’n verslag uiteengesit. Die vullisterreine wat die AfriForum-takke in Ekurhuleni wou besoek, was egter vanjaar gesluit of ontoeganklik weens onluste en onwettige mynwerkers. In ander gevalle het die munisipaliteit AfriForum se versoeke om toegang tot die vullisterreine te verkry – selfs in samewerking met die munisipaliteit se ouditeurs – geweier.

AfriForum het op 12 Junie ’n brief aan dr Imogen Mashazi, die munisipale bestuurder, gerig nadat karkasse van diere wat deur die Ekurhuleni-metro se vullisverwyderingsdienste by die Springs-DBV verwyder is, onwettig in ’n veld gestort is. In die brief het AfriForum geëis dat daar ondersoek ingestel word en dat die munisipaliteit terugvoer aan dié burgerregteorganisasie verskaf. Sedertdien is geen terugvoer ontvang nie. Die vullisterreine in Springs word ook gereeld toegemaak vir die publiek weens verskeie probleme by hierdie vullisterreine.

In ander gedeeltes van Ekurhuleni word die Simmer & Jack-vullisterrein in Germiston deur zama-zamas beheer. Daar is voortdurend ’n bakleiery vir beheer van grond tussen twee faksies wat tans onwettig op die gronde van die vullisterrein myn. Op 23 Junie is daar op agt lyke van vermeende onwettige myners in Primrose afgekom, terwyl inwoners wat naby die vullisterrein woon gereeld in hul huise moet skuil as gevolg van skote wat op die vullisterrein afgevuur word.

Intussen wemel die Weltevreden-vullisterrein naby Brakpan ook van onwettige myners wat in Februarie 2019 veroorsaak het dat Main Reefweg, wat een van die hoofroetes na Brakpan is, in duie gestort het. Hierdie vullisterrein het ook uitdagings met ’n nedersetting wat op die grens van die vullisterrein ontstaan het en dit vir operateurs van dié vullisterrein onmoontlik maak om hul lisensievoorwaardes ná te kom. Onwettige vullisstortings vind gereeld buite hierdie vullisterrein se gronde plaas, terwyl die Ekurhuleni-metro se eie vullisverwyderingsdienste ook skuldig is hieraan. Die AfriForum-tak in Brakpan het ook met die munisipaliteit vergader om hul bekommernisse te deel en aangebied om in te gryp, maar het tot dusver geen ondersteuning van die munisipaliteit gekry nie.

“Dis onaanvaarbaar dat ons as belastingbetalers vir ons basiese menseregte en dienste moet baklei. Die owerhede is juis daar om die Grondwet te handhaaf deur ons regte te beskerm en basiese dienste, waarvoor ons betaal, te lewer. Ons dring daarop aan dat die munisipaliteit ’n werkbare en volhoubare plan uiteensit en aan ons beskikbaarstel oor hoe hulle dié gebrek aan effektiewe vullisverwyderingsdienste gaan hanteer,” sê Jurie Ferreira, distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

“Die stadige ingryping en wanbestuur van die munisipaliteit lei tot groter probleme, waaronder onwettige aktiwiteite, op hierdie vullisterreine. Indien die munisipaliteit nie dringend ingryp nie sal dit verreikende gevolge op dienslewering, veiligheid en inwoners se gesondheid hê.”

Alhoewel die AfriForum-takke daarvan bewus is dat daar nie vinnige oplossings tot elke uitdaging op die vullisterreine is nie, sal AfriForum bly druk toepas op die munisipaliteit. Verdere regstappe sal ook oorweeg word om die munisipaliteit verantwoordelik te hou indien die munisipaliteit nie sy wetlike verpligtinge nakom nie.

AfriForum moedig die gemeenskappe in Ekurhuleni aan om betrokke te raak by AfriForum om sodoende dié organisasie se mandaat en vermoëns te bevorder om druk op die regering toe te pas.

Soortgelyke plasings