AfriForum-teenboelieveldtog besoek die Gereformeerde Gekombineerde Skool Dirk Postma


Die burgerregte-organisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 13 en 15 Augustus 2018 by die Gereformeerde Gekombineerde Skool Dirk Postma in Pretoria besoek afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders, onderwysers en ouers in.

“AfriForum wil met sy teenboeliepraatjies saam met leerders, onderwysers en ouers werk om afknouery in skole stop te sit en betrokke partye met die kennis toerus om dít te doen,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se koördineerder vir leierskapsontwikkeling.
“Dirk Postma se leuse is: ‘Wees sterk en vol moed’. Ons wil leerders leer om op ’n positiewe, Christelike wyse op te tree wanneer hulle boelies moet hanteer. AfriForum se teenboelieveldtog wat oor die wapenrusting van God handel, is ook ’n unieke manier om kinders in dié opsig op te voed,” sê Erik Visser, laerskoolhoof van die Gereformeerde Gekombineerde Skool Dirk Postma.
“Ek glo dit is uiters noodsaaklik om deur middel van opleiding, rigtinggewing en ondersteuning in jongmense te belê. Sodoende help ons nie net met die opheffing van vandag se leiers nie, maar ook dié van môre. Dit bly ’n voorreg om saam met ouers, onderwysers en die gemeenskap hande te vat om afknouery in skole hok te slaan,” sê Manie Botha van School of Life.

Stuur ’n e-pos na boelie@afriforum.co.za as jou kind se skool by hierdie veldtog en leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.

Soortgelyke plasings