AfriForum-teenboelieveldtog besoek Laerskool Kenmare


Die burgerregte-organisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 18 Februarie 2019 besoek by die Laerskool Kenmare in Krugersdorp afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die kennis om as leier op te tree en afknouery te ontmoedig. Die Laerskool Kenmare se teenboeliedag was voorwaar ’n reusesukses en dit is altyd lekker om te sien dat ’n skool soveel moeite met hulle leerders doen,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se koördineerder vir leierskapsontwikkeling.
“Dit is vir ons as personeel baie belangrik om vir leerders ’n omgewing te skep waarin hulle veilig kan voel en die geleentheid kry om sy/haar volle potensiaal te bereik. Met ons jaartema – Kennies Koester – streef ons daarna om elke kind met liefde en begrip te omvou, aangesien dit ’n geborge leeromgewing, gelukkige kinders en goeie akademiese vordering verseker. AfriForum illustreer op ’n praktiese en prettige wyse aan die kinders hoe onverskillige dade ander maats onnodiglik kan seermaak. Ons kinders en hul welstand is vir ons belangrik en daarom ondersteun ons graag dié program,” sê Willine Joubert, departementshoof van opvoedkundige leiding by die Laerskool Kenmare.
“Boeliebewusmaking in skole is baie belangrik omdat afknouery en selfhaat al van kleins af begin en die invloed daarvan somtyds deur elke lewensiklus saamgedra word – tot en met volwassenheid. Dit is belangrik dat kinders besef hulle lyk elkeen verskillend en is uniek geskape. Ek wil hulle graag leer om lief te wees vir hul eie liggaam en dit met gesonde, nutriëntryke kosse te voed. Dit sal jou energievlakke, asook hoe jy oor jouself en ander voel, beïnvloed,” meen Natasha Smit van Natasha Smit Geregistreerde Dieetkundige.

Stuur ’n e-pos na leandie.brasler@afriforum.co.za indien jou kind se skool by hierdie veldtog en leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.

Soortgelyke plasings