AfriForum toets watergehalte in Mpumalanga-Oos


AfriForum het die water in Piet Retief, Ermelo, Belfast, Machadodorp, Dullstroom, Lydenburg, Witrivier en Nelspruit in Mei 2017 getoets om die gehalte van dié dorpe se drink- en behandelde afvalwater te bepaal. 

“Ons het vasgestel dat die drinkwater in die provinsie skoon is en geen swaarmetale bevat nie. Daarbenewens voldoen bakterieëvlakke aan toepaslike standaarde. AfriForum sal die watergehalte deurlopend toets om die grondwetlike regte van dorpsbewoners te beskerm en seker te maak dat hulle van skoon drinkwater voorsien word,” sê Johann Weber, AfriForum se streekskoördineerder vir Mpumalanga-Oos

Die burgerregte-organisasie het egter sy kommer uitgespreek oor dié dorpe se behandelde afvalwater wat nie aan die gestelde standaarde voldoen nie. “Ons riviere word deurlopend deur ondoeltreffende rioolnetwerke besmet wat as gevolg van swak instandhouding deur die plaaslike munisipaliteite toenemend verval en ons waterbronne se gehalte bedreig,” sê Weber verder.
AfriForum se nasionale blou-en-groendruppelprojek fokus op die gehalte van dorpe se drinkwater en rioolaanlegte. Die projek fokus nie noodwendig op die toestand van die rioolaanleg nie, maar eerder op die watergehalte wat ná afloop van die proses as drinkwater (bloudruppel) of rioolwater (groendruppel) vrygelaat word.

“Ons versoek die inwoners van dié dorpe om AfriForum die mandaat te gee om die dorpe se watergehalte deurlopende te moniteer. SMS jou dorp se naam na 45350 om dié projek te ondersteun. Elke SMS kos R1,” sluit Weber af.

Soortgelyke plasings