| |

AFRIFORUM TREE TOE TOT KOSTER-HOFGEDING

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandeesweek hofstukke formeel beteken om as vriend van die hof (amicus curiae) in die voortslepende Koster-hofgeding toe te tree. AfriForum se toetrede volg nadat die Departement vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (Cogta) ’n dringende hofaansoek namens die Kgetlengrivier Plaaslike Munisipaliteit in die Noordwes Hooggeregshof in Mmabatho geloods het om die bestuur van Koster en Swartruggens se water- en rioolwerke uit die hande van die Kgetlengrivier Besorgde Inwoners (KBI) terug te neem. Die KBI bestuur dit sedert Desember 2020 ingevolge ’n hofbevel.

Volgens Corné Cronjé, bestuurder van AfriForum se gemeenskapstrukture, sal die saak op 11 Mei 2021 in die Hooggeregshof in Mmabatho bereg word. Volgens Cronjé is die gebeure in die Kgetlengrivier Munisipaliteit en die frustrasie van die plaaslike gemeenskap ’n mikrokosmos van die landwye munisipale verval en gevolglike radeloosheid van gemeenskappe wat nie basiese dienste ontvang nie.

“AfriForum voer in sy hofstukke aan dat Koster nie in isolasie gesien moet word nie. Die oplossings wat hier gevind word, is egter uiters belangrik vir ander gemeenskappe in die land om op gestruktureerde wyse dienste self te kan bestuur waar munisipaliteite misluk het,” sê Cronjé.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het reeds tot die saak toegetree. Die eenheid tree namens die KBI-inwoners op in die hofaansoek wat eerskomende Dinsdag in dieselfde hof aangehoor word om te verklaar dat die munisipale bestuurder ’n hofbevel geminag het. Wico Swanepoel, prokureur by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, verduidelik dat die munisipale bestuurder, Joseph Mogale, deur die Hooggeregshof beveel is om onder meer aan die hof verslag te doen oor watter stappe geneem is om die rioolvloei op te klaar en in die toekoms te verhoed, by gebreke waarvan hy 90 dae tronkstraf opgelê sal word.

“Die minagting van ’n hofbevel hou in dat die howe se gesag ondermyn word en dat dit gevolglik beskerm moet word. Die doel van ’n bevinding van minagting is juis om die howe se gesag te beskerm en verdere dade van minagting af te weer. Ons voer aan dat Mogale sy plig ingevolge die hofbevel versuim het en dat hy verantwoordbaar gehou moet word. Die aansoek om minagting het ten doel om te verseker dat geregtigheid geskied en dat die howe se gesag nie geskend word nie,” voeg Swanepoel by.

Die dienstemaatskappy Pionier – wat  deur die KBI aangestel is om die werke te bestuur – is ook tot die hofstryd gevoeg, maar verdedig ook die hofaansoek. “Die aanlegte funksioneer nou beter as ooit en die watergehalte is baie hoog. Cogta en die munisipaliteit is paniekerig en wil sonder meer die aanlegte aan Magalies Water teruggee, wat saam met die munisipaliteit vir die aanlegte se verval verantwoordelik is. Dit gaan die verstand te bowe,” sê Johan Kruger, uitvoerende voorsitter van Pionier Dienstemaatskappy.

Soortgelyke plasings