| |

Bellville-buurtwag help brand bedwing ná mobiele toilet in De Jongh-park ontplof

’n Brand wat onlangs (14 Mei) in De Jongh-park uitgebreek het, kon moontlik die Oakdale-woonbuurt in puin gelaat het as AfriForum se Bellville-buurtwag nie vinnig op die noodroepe van inwoners gereageer het nie. Dié buurtwag het om 15:45 ’n oproep ontvang oor ’n ontploffing in die park. Met hul aankoms op die toneel was ’n mobiele toilet reeds in ligte laaie. Daar het boonop ’n tweede brand elders in die park ontstaan en vinnig begin versprei.

Die buurtwag het dadelik die plaaslike brandweer ontbied, en werk daarvan gemaak om die naburige woongebied te beveilig. Die buurtwag het daarin geslaag om ’n deel van die brand met brandblussers te bedwing terwyl hulle op die brandweer gewag het. Dié pogings het toegesien dat die brand nie na wonings versprei nie. Met die brandweer se aankoms het hulle vinnig hul toerusting ingespan en die brand geblus. 

“Gemeenskappe se bereidwilligheid om hul omgewing te beskerm moet nooit onderskat word nie. Dit is weereens bewys in die manier hoe hierdie gemeenskap verantwoordelikheid geneem het en as oorwinnaars uit die stryd getree het,” sê Johan Crous, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Weskus.

Dit het later aan die lig gekom dat vermeende kabeldiewe ’n vuur in die park gemaak het om die plastiek van die koperkabels af te smelt. Die mobiele toilet was egter veels te naby aan dié vuur. Dit het vinnig aan die brand geraak en ontplof.

Yollanda Fritz, lid van AfriForum se Bellville-buurtwag, het diegene bedank wat vinnig gereageer en gehelp het om die brand te bedwing terwyl hulle op die brandweer gewag het. “Die geheim van hierdie buurtwag is nie net die publiek se inkoop nie, maar ook die goeie samewerking en ondersteuning wat ons van die plaaslike polisie en brandweer geniet. Hierdie soort vennootskappe help om gemeenskappe te bou en te verbeter.”

Diegene wat graag by AfriForum se Bellville-buurtwag betrokke wil raak, kan C.J. Scholtz (voorsitter van AfriForum se Kaapstad-Noord-tak) by 083 625 8109 kontak, of besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings