| |

AfriForum tree toe tot nuwe grootskaalse Weskus-ontwikkeling

Die burgerregteorganisasie AfriForum het op 14 September 2021 ’n skrywe aan Exigent Engineering Consultants gestuur om as ’n belanghebbende en geaffekteerde party (IAP) te registreer in ’n aansoek om ’n gaspyplyn tussen St. Helenabaai en Saldanhabaai langs die Weskus te ontwikkel, asook om in Saldanhabaai en St. Helenabaai drywende bergings- en hervergassingseenhede in die onderskeie hawes te anker.

Exigent Engineering Concultants is aangestel as die onafhanklike omgewingsbeoordelingspraktisyns (OBP) om die omgewingsimpakstudie uit te voer vir die voorgestelde gaspyplyn en die twee drywende bergings- en hervergassingseenhede.

“AfriForum is van mening dat dit belangrik is om by die proses betrokke te wees aangesien die Weskus oor ’n unieke karakter beskik met betrekking tot natuurlike hulpbronne en die ongereptheid van die gebied,” sê Johardt van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.

Volgens Van Heerden sal die organisasie seker maak dat die geoormerkte ontwikkeling aan al bepalings van die Nasionale Omgewingsbestuurswet (Nema) (Wet 107 van 1998) voldoen en dat behoorlike omgewingsimpakstudies gedoen word.

AfriForum sal kommentaar oor die aangeleentheid indien sodra Exigent Engineering Consultants die nodige inligting verskaf.

“Ons moedig alle gemeenskapslede aan om as ’n IAP te registreer sodat almal kennis dra van die gebeure en die nodige insette kan lewer rakende die kwessie.

Soortgelyke plasings