|

AfriForum samel R150 000 in vir skool vir kinders met outisme

Die burgerregteorganisasie AfriForum se Wes-Kaap-kantoor het op 18 Augustus ’n gholfdag aangebied ten bate van die Herbert Street Special School. Die organisasie het ’n totale bedrag van R150 000 ingesamel vir die skool se beroepsonderwysprogram.

Die beroepsonderwysprogram fokus daarop om leerders die geleentheid te gee om vaardighede te ontwikkel wat hulle in die gemeenskap kan aanwend en op hierdie wyse werksgeleenthede te skep.

’n Bedrag van R86 500 is ingesamel vanuit die inskrywings en die putjies wat geborg is en ’n verdere R63 500 is tydens die veiling, wat die aand aangebied is, ingesamel.

Benewens die R150 000 wat tydens die gholfdag en die veiling ingesamel is, het verskeie borge ook na vore getree om die skool met donasies by te staan. Meat Only gaan  vir 12 maande vleis ter waarde van R2 000 per maand aan die skool skenk. Paws4Life saam met hul gidshonde, wat opgelei is om met kinders met outisme te werk, gaan die skool besoek en met die kinders werk. Futureseal gaan die skool verf en kyk na waterdigting. Spectacle Warehouse gaan ook gratis oogtoetse aan die leerders bied.

“Nie onweer of beurtkrag kon ’n demper plaas op die gees wat hier geheers het nie. Daar was ook geen tekort aan hoendervleis-oomblikke tydens die aand se veiling nie. Spelers en borge het, buiten pryse en skenkings wat hulle reeds vooraf gemaak het, hul beursies oopgemaak om die veiling te ondersteun. Dit is projekte soos hierdie wat die krag van ’n gemeenskap wys,” sê Minique Valverde-Scott, AfriForum se hoof van projekte.

Hierdie inisiatief spruit uit die organisasie se #MyStraat-projek waar hulle die area om hul kantoor wil opknap en ook wil uitreik na die gemeenskap. Die doel van hierdie projek is ook om geleenthede te skep waar lede van die gemeenskap mekaar kan leer ken en saam kan werk om ’n verskil te maak. 

Die organisasie het op 19 Augustus ook ’n sakekuier aangebied by Kapstadt Brauhaus in Durbanville. Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het as spreker opgetree en die onderwerp het gehandel oor hoe korrupsie sakeondernemings lamlê. Die geleentheid is deur 76 gemeenskapslede bygewoon en die volgende sakekuier sal in November plaasvind.

“Dit was vir ons ’n voorreg om hierdie sakekuier te kon aanbied en die positiewe reaksie wat ons ontvang het vanaf die mense wat dit bygewoon het, is verblydend. Ons sien uit om nog sulke netwerkgeleenthede aan te bied in die toekoms. Die inligting wat tydens hierdie geleenthede oorgedra word, is sinvol en dit is van toepassing op sakeondernemings in Suid-Afrika so ons hoop dat dit insiggewend is vir elkeen wat dit bywoon,” sê Priscilla Nagtegaal, administratiewe kantoorkoördineerder.

Soortgelyke plasings