Sunfield Home-saak: AfriForum reik aansoek teen Departement van Maatskaplike Ontwikkeling in Mpumalanga se hooggeregshof uit

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag hofstukke teen die Mpumalanga Departement van Maatskaplike Ontwikkeling ingedien, nadat die departement steeds weier om maatskaplike toelae, betaalbaar aan Sunfield Home vir gestremdes, te betaal.

AfriForum het tot die saak toegetree nadat die staat reeds vir die afgelope 14 jaar weier om die subsidiebedrag vir Sunfield Home, ’n tehuis vir fisieke en verstandelik gestremde persone, te verhoog. Die departement het gedreig om die staatsgesubsidieerde inwoners te verplaas.

AfriForum se prokureursbrief in Augustus het geëis dat die departement, eerstens, hul besluit om inwoners te forseer om te skuif heroorweeg en hersien, en tweedens, dat die subsidiebedrag van die tehuis diensooreenkoms tot ’n aanvaarbare bedrag aangepas word.

“Wanneer die regering die weerloses in die samelewing bedreig en diegene wat probeer help onregverdig behandel, sal AfriForum vierkantig in die regering se pad staan,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

“Met ons regsaksie vandag, het AfriForum gewaarborg dat die Sunfield Home-saak binnekort die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling se volle aandag sal kry,” sluit Van Zyl af.

Soortgelyke plasings