Toerusting bome
|

AfriForum vat waarnemende regter hof toe oor weerhouding van hofuitspraak

AfriForum het sy regspan opdrag gegee om ’n mandamusaansoek te bring teen ’n waarnemende regter in die Hooggeregshof in Pietermaritzburg oor die weerhouding van ’n hofuitspraak waar die aangeleentheid al meer as ’n jaar terug aangehoor is. Die saak tussen AfriForum en die AbaQulusi Plaaslike Munisipaliteit is op 19 Augustus 2022 deur waarnemende regter Sabela aangehoor, maar ten spyte van verskeie briewe aan die regter waarin AfriForum uitspraak geëis het, en selfs nadat die regter-president hom opdrag gegee het om uitspraak te lewer, is daar nog geen uitspraak gelewer nie. AfriForum het intussen skriftelike toestemming van regter Thoba Poyo-Dlwati, regter-president van KwaZulu-Natal, gekry om die mandamusaansoek te bring om Sabela te dwing om uitspraak te lewer.

AfriForum sal in die mandamusaansoek die hof vra om Sabela te dwing om ’n uitspraak binne 10 dae vanaf die dag wat die hofbevel uitgereik word, te lewer en dat Sabela ook die regskostes in sy persoonlike hoedanigheid moet betaal.

In die oorspronklike hofsaak wat verlede jaar aangehoor is, het AfriForum ’n interdik teen die AbaQulusi-munisipaliteit probeer kry om die toekenning van ’n onwettige tender, waar die afsny en verkoop van ’n denneplantasie op die spel is, te keer. Die munisipaliteit het nie die nodige prosesse gevolg om die tender te bekom nie.

“Die plantasie is die eiendom van die munisipaliteit, maar daar is kontrakteurs wat nou die plantasie stroop en die bome verkoop, terwyl die wins daarvan direk in individue se sakke beland. Ons wil graag die afkap van die plantasie stopsit omdat die nodige tenderprosesse nie gevolg is nie, maar met die vertraging van die uitspraak is hulle nou al meer as ’n jaar voortdurend besig om hierdie bates van die munisipaliteit af te kap en te verkoop,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal.

Volgens geregtelike norme en standaarde moet uitsprake binne drie maande gelewer word, maar daar word, ten spyte van AfriForum se vele pogings om die uitspraak te bekom, reeds meer as ’n jaar lank hiermee gesloer. “Ons het al menige briewe en versoeke aan die regter se kantoor en aan die hofbestuurder gerig om ’n uitspraak te kry, waarna die hof se regter-president ’n opdrag aan Sabela gegee het om uitspraak teen 18 Februarie 2023 te lewer. Dit het egter ook nie gebeur nie. Ons het toe die volgende stap gedoen en ’n versoek aan die regter-president gerig waarin ons toestemming gevra het om teen Sabela te litigeer. Die regter-president het nou aan AfriForum toestemming verleen om met dié litigasieproses te begin,” het Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof vir die sentraalstreek, gesê.

“AfriForum sal in die howe aanhou baklei vir geregtigheid en sodoende die belange van sy lede en die gemeenskappe waaraan hulle behoort, beskerm,” sluit Grobbelaar af.

Soortgelyke plasings