AfriForum: Beplande rassediskriminasie in regsektor is ongrondwetlik

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag hul kommentaar teen die regering se beplande rassekriteria in die regsberoep ingedien by die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Ebrahim Patel. AfriForum voer aan dat hierdie Konsep Regsektorkode teen die Grondwetlike beginsels van nie-rassigheid indruis en dat die implementering daarvan ten sterkste teengestaan moet word.

Dié kode, wat swart ekonomiese bemagtiging (SEB) voorstaan, poog om diskriminerende rasseteikens in te stel vir die regsektor. Daar word onder meer vereis dat die staat regswerk en openbare fondse aan prokureurs, prokureursfirmas en advokate, toewys gebaseer op hul geslag en ras.

“Die regering se rassediskriminasie moet tot ’n einde kom. Ons sal by AfriForum alles in ons vermoë doen om die ANC se diskriminerende wette, wat aangevuur word deur hul rasse-agenda, teen te staan,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

“Die ANC-regering is die hoof verdeler, steler en diskrimineerder in die land. Teenstand en ferm kritiek teen hul vernietigende wette en beleide is ’n morele verantwoordelikheid,” sluit Van Zyl af.

Soortgelyke plasings