| |

Wes-Kaap-inwoners moet drakoniese NGV-wetsontwerp teenstaan by openbare verhore

AfriForum doen ’n dringende beroep op die publiek in die Wes-Kaap om in die volgende twee weke hulle stem te laat hoor oor die wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV). Openbare verhore gaan van 18 tot 29 September in verskeie dorpe en stede in die Wes-Kaap gehou word. Verteenwoordigers van AfriForum gaan dié verhore bywoon om die burgerregteorganisasie se teenstand teen die NGV te kommunikeer. Hierdie wetsontwerp dien tans voor die Nasionale Raad van Provinsies, dus gaan die inwoners van elke provinsie ’n geleentheid kry om kommentaar te lewer.

Indien die wetsontwerp deurgevoer word, sal die impak van die NGV uiters vernietigend wees. Dit sal onder meer aan die minister van Gesondheid onredelike mag oor die privaat gesondheidsektor gee, lei tot ’n drastiese uitvloei van mediese kundigheid uit Suid-Afrika, en ’n ondraaglike las op belastingbetalers plaas. 

“Dit is belangrik dat die publiek die provinsiale verhore bywoon om die NGV op elke moontlike wyse teen te staan. Groter teenstand deur gemeenskappe verbeter die kans om hierdie vernietigende wetsontwerp te stuit,” maan Louis Boshoff, AfriForum se woordvoerder oor die NGV. “AfriForum dra die gesondheid van alle Suid-Afrikaners op die hart en sal nie toekyk hoe absurde ANC-planne, wat gesondheidsorgvoorsiening totaal sal ontwrig, ongehinderd deurgevoer word nie.”

Die publieke verhore in die Wes-Kaap vind in die volgende dorpe en stede plaas:

  • Beaufort-Wes: 18 September om 09:00, Rustdene Gemeenskapsaal
  • George: 19 September om 09:00, Banketsaal, Yorkstraat 71
  • Caledon: 20 September om 09:00, Victoriasaal, Ian Toerien-weg
  • Kaapstad: 22 September om 09:00, WKPP Kantoor, Waalstraat 7
  • Saldanhabaai: 26 September om 09:00, White City Meerdoelige Sentrum
  • Vredendal: 27 September om 09:00, Sportsaal, Damstraat
  • Paarl: 29 September om 09:00, Thusongsentrum, Mbekweni

Soortgelyke plasings