SABC verbied AfriForum-radioadvertensie oor “Kill the Boer”

Die SABC het ’n verbod geplaas op die uitsending van ’n radioadvertensie waarin AfriForum die publiek vra om dié organisasie se veldtog teen polariserende uitsprake soos “Kill the Boer” te ondersteun. In hierdie advertensie dui AfriForum aan dat hy polarisasie teenstaan deur die saak in die Hoogste Hof van Appèl wat op 4 September aangehoor word en deur projekte aan te pak ter bevordering van wedersydse respek tussen gemeenskappe.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, beskryf die SABC se verbod as growwe sensorskap wat ’n bespotting maak van die openbare uitsaaier se aansprake dat die SABC onpartydig is en gekant is teen verdelende uitsprake. “Die SABC het hom nou vierkantig aan die kant geskaar van Julius Malema, die EFF en dié party se verdelende gebruik van die “Kill the Boer” slagspreuk deur diegene soos AfriForum, wat polarisasie teenstaan en wedersydse respek bevorder, se monde te probeer snoer deur die uitvaardiging van dié verbod,” voeg Kriel by.

Volgens Kriel is dit verstommend dat die SABC, gegewe dié uitsaaier se finansiële verknorsing, bereid is om advertensie-inkomste van AfriForum van die hand te wys om hulle eie ideologiese vooroordele te dien. “Die SABC se partydigheid, soos deur die verbod op AfriForum se advertensie versinnebeeld, is juis een van die redes waarom baie mense opgehou het om hulle TV-lisensies te betaal,” sê Kriel.

Die SABC het teenoor AfriForum aangevoer dat die sub judice-reël hulle verhoed om nou ’n advertensie uit te saai aangesien die saak nog in die Hoogste Hof van Appèl aangehoor moet word. Volgens Kriel is dit ’n flou verskoning om hulle sensorskap te probeer regverdig, aangesien dit staande gebruik is, ook op die SABC, dat daar verwys word na hofsake voordat dit plaasvind.

Nóg ’n verskoning wat die SABC aanvoer is dat die EFF die reg sal moet hê om hulle kant van die saak te stel rakende dié advertensie. “Die SABC onderskat hulle luisteraars en kykers se intelligensie as hulle dink die publiek sal val vir ’n verskoning dat daar op ’n betaalde advertensie geantwoord moet word. As ’n bank op die SABC adverteer, moet ander banke dan nou die reg kry om op hulle advertensie te antwoord?” vra Kriel.

Volgens AfriForum sal hy ten spyte van die SABC se sensorskap voortgaan met die mobilisering van die publiek teen die EFF se polarisasie deur die “verbode” advertensie op radiostasies buite die SABC se stal te plaas. Die veldtog word ook deur koerantadvertensies en deur bemarkingsveldtogte op sosiale media en ander internetgedrewe nuusinstellings gevoer.

Die radioadvertensie wat deur die SABC verbied is, kan op AfriForum se Facebook-blad gehoor word.

Soortgelyke plasings