|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum het die afgelope week op verskeie velde vir die regte van minderheidsgroepe geveg waar die ANC-regering onder meer met drakoniese reëls en regulasies steeds aanslae teen Afrikaans maak.

Blade Nzimande, minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovering, het weer uitlatings gemaak wat Afrikaans se status as inheemse taal bevraagteken. In reaksie hierop sê Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, taalgemeenskappe wat ernstig oor hul taalregte is, sal self onderriginstellings moet vestig en uitbou.

Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake

Die voorgestelde nuwe waterregulasies rakende watergebruik vir ontspanningsdoeleindes en gepaardgaande waterhulpbronbestuursplanne wat onlangs deur die Departement van Water en Sanitasie (DWS) voorgelê is vir openbare kommentaar, is ’n slinkse plan om die onteiening van waterregte te bewerkstellig, sê AfriForum. Dié burgerregteorganisasie gaan sterk kapsie hierteen maak.

Marais de Vaal, AfriForum se adviseur vir Omgewingsake

AfriForum het hierdie week geëis dat daar teen myne wat sonder die nodige waterlisensies in Suid-Afrika se riviere bedrywig is, opgetree moet word. Dit het aan die lig gekom dat 76 myne hulle hieraan skuldig maak.

Onlangse voorvalle van intimidasie by die Universiteit van Pretoria (UP) het AfriForum Jeug genoop om ’n aansoek by UP en drie ander universiteite in te dien oor wat die mandaat van sekuriteit op kampus is. Die vraag is of sekuriteitsdienste universiteite se eiendom of studente moet beskerm? Studente se veiligheid is vir AfriForum Jeug van kardinale belang.

Intussen het die UP erken dat hul beleide rassisties is. AfriForum Jeug sou vandeesweek plakkate, wat inhoud uit ’n omvattende verslag oor die stand van nierassigheid aan Suid-Afrikaanse universiteite bevat, by die UP-kampus opgesit het. Dr. Willem Jorissen, waarnemende dekaan van Studentesake, het egter die plakkate afgekeur omdat dit glo aan rassisme grens. Die slagspreuke op die plakkate was juis dié universiteit se eie rasbeleid wat in AfriForum Jeug se verslag vervat is.

AfriForum het hierdie week saam met verskeie ander rolspelers in Sandton by ’n seminaar sterk standpunt teen swart ekonomiese bemagtiging (SEB) ingeneem. Volgens Ernst van Zyl, AfriForum se hoof vir Openbare Betrekkinge, was hierdie seminaar tekenend van die verskuiwing in die politieke landskap, siende dat dit die eerste keer is wat groot finansiële rolspelers begin om op ’n kritiese wyse die tekortkominge van SEB te bespreek.

Verskeie AfriForum-takke insluitend dié in Keimoes, Cradock, Sasolburg, Potchefstroom en Roodepoort het die afgelope week bome geskenk of geplant in hul onderskeie dorpe. In Uitenhage het die AfriForum-tak historiese bakens begin skoonmaak, in Bethal is groente uit die tak se groentetuin aan plaaslike tehuise en organisasie geskenk, die Pionier-tak in Meyerspark, Pretoria, het gehelp om ’n gebarste waterpyp te herstel en die Overstrand-tak het ingespring om die waternood in Hermanus te verlig ná storms verwoesting in die gebied gesaai het.

AfriForum se Strand-tak en die Strand Patrol-buurtwag het in samewerking met die plaaslike polisie, Fidelity ADT, AM Security en Vetus Schola 21 arrestasies in September uitgevoer, die Germiston-buurtwag het die afgelope naweek gehelp om sewe dwelmsmokkelaars vas te trek en 16 protospanlede van AfriForum se Matzikama-buurtwag het gespesialiseerde veiligheidsopleiding in Vredendal onder leiding van AfriForum Gemeenskapsveiligheid ondergaan.

Soortgelyke plasings