AfriForum verkla EFF by gelykheidshof weens haatspraak


Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag formele klagtes van haatspraak teen die EFF by die gelykheidshof se kantoor in die landdroshof in Johannesburg ingedien. Dít volg ná ’n insident waartydens lede van die EFF ’n lied met die woorde “white man, you must die” en “shoot to kill the Boere” gedreunsang het.
AfriForum het in hierdie verband ’n prokureursbrief aan die leierskap van die EFF gerig, waarop die party onbevredigend geantwoord het, terwyl dr. Mbuyiseni Ndlozi, woordvoerder van die EFF, die optrede van hierdie EFF-lede geprys het.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum en hoof van AfriForum se teenrassisme-eenheid, sê dat haatspraak teen boere in besonder stopgesit moet word, aangesien geweld teen boere reeds ’n ernstige krisis is. “Hierdie is nie ’n filosofiese debat nie. Die EFF skree ‘maak dood die boere’, en die boere word doodgemaak. Dít is die harde werklikheid.”

Roets voeg by dat hierdie saak as ’n prioriteit gedryf sal word en dat dit waarskynlik op ’n verhoor sal uitloop, soortgelyk aan die haatspraakverhoor van 2011 waar die hof beslis het dat Julius Malema en die ANC haatspraak gepleeg het met hul sing van die lied Dubula i’Bhunu (Skiet die Boer).

Soortgelyke plasings