Alfa-buurtwag beveilig gemeenskap


AfriForum se Alfa-buurtwag in die Overstrand het op 27 Junie 2019 gehelp met die arrestasie van vier verdagtes nadat ’n huisroof kort voor middernag in Onrus plaasgevind het. ’n Soektog is van stapel gestuur nadat inligting oor die verdagtes met rolspelers insluitend Fidelity ADT en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gedeel is.

Twee verdagtes is in nabygeleë tuine waar hulle weggekruip het met die gesteelde goedere gevind. Hierdie goedere sluit onder meer ’n televisie, selfone en kontant in. Die ander twee verdagtes is later gearresteer toe ’n voertuig wat met die beskrywing ooreengestem het, voorgekeer is.
Een slagoffer is tydens die huisroof beseer en het meswonde aan sy arm en hand opgedoen.
In nóg ’n voorval is twee verdagtes met vermoedelik gesteelde goedere in Hermanus aangekeer, terwyl ’n poging tot ’n huisbraak in Sandbaai afgeweer is.

“Suksesse soos hierdie word gedryf deur samewerking tussen die SAPD, die gemeenskap en privaat sekuriteit, asook doeltreffende kommunikasie. Die huidige ekonomiese klimaat veroorsaak dat misdadigers bedrywiger word. Daarom wil ons die gemeenskap aanmoedig om paraat te wees en om by proaktiewe veiligheidsinisiatiewe soos buurtwagte aan te sluit,” sê Johandré van Zyl, AfriForum se veiligheidshoof vir die suidstreek.
“Ons staan altyd gereed om saam met die SAPD en privaat sekuriteit te werk om ons deel te doen om die gemeenskap ’n veiliger plek vir almal te maak,” sê Lourens Theron, voorsitter van AfriForum se Alfa-buurtwag.

Raak by AfriForum se veiligheidstrukture betrokke: SMS “Veilig” na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings