|

AfriForum verleen hulp tydens vloede in Kariega

AfriForum se Uitenhage en Port Elizabeth-takke het sonder huiwering ingespring en hulp verleen aan die slagoffers van die vloede wat die afgelope tyd in Kariega (voorheen Uitenhage) gewoed het.

Die AfriForum-takke het 155 matrasse afgelewer by die NG Kerk De Mist en NG Sending Kerk sodat mense wat sonder heenkome gelaat is ten minste droog kon slaap. Deur voedselskenkings wat aan die Uitenhage-tak gemaak is, kon 1 500 mense (kinders en babas ingesluit) gevoed word en bestanddele vir 4 500 etes is ook voorsien. Die AfriForum-takke kon saam met die gemeenskap en ondernemings soos Sovereign Foods daarin slaag om in ’n kort tydjie klere en kos in te samel en dit te versprei na diegene wat dit nodig gehad het.

Voorts het AfriForum se Port Elizabeth-tak verversings aan die reddingswerkers voorsien, wat na slagoffers wat in die vloede meegesleur is, gesoek het.

“Daar moet meer gefokus word op beplanning en voorkoming om hierdie tipe skade en lewensverlies te verhoed. Wanneer die nodige voorbereidings deur die munisipaliteit getref word is die ekonomiese skade, lewensverlies en risiko baie minder,”  sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis vir AfriForum.

Met berigte rondom die damwal wat moontlik sou breek het AfriForum se Port Elizabeth-tak te same met die Nelson Mandelabaai rampbestuur die damwal moniteer met ’n hommeltuig. Dit het daartoe gelei dat daar pro-aktief deur die regte beplanning voorsorg getref kon word indien die damwal sou breek.

Rampe soos hierdie tref die armstes gewoonlik die hardste en dit neem ook langer vir hierdie mense om weer op die been te kom ná só ramp en die regering bied min tot geen hulp om hierdie mense weer op die been te bring nie.

Soortgelyke plasings