| |

AfriForum sal Onderwyswetsontwerp en die teiken van Afrikaanse skole teenstaan

In antwoord op die minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga, se kommentaar in die Nasionale Vergadering gister, het AfriForum herhaal dat die organisasie alles moontlik sal doen om skoolbeheerliggame se reg om onder meer oor skole se toelatings- en taalbeleid te besluit, te verdedig. Dit is ook so in dié organisasie se omvattende kommentaar op die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela) wat in Junie 2022 ingedien is en in kommunikasie met die minister, beklemtoon.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, het Motshekga met haar uitlatings dat die regte van beheerliggame soos beskerm in huidige onderwyswetgewing verouderd is, weereens bewys dat die sogenaamde Bela-wetsontwerp nie op die bevordering van gehalte onderrig fokus nie, maar op die vernietiging van Afrikaans as onderrigtaal en groter magsentralisasie in die hande van die staat.

“Parallel- of dubbelmedium onderrig in skole lei onafwendbaar tot eentalige onderrig in die sterkste taal, wat in die geval van Suid-Afrika Engels sal wees. Dit is herhaaldelik plaaslik en internasionaal bewys, maar word deur die departement verswyg. Dit is die reg van kinders om toegang tot moedertaalonderrig te hê. Die afgelope dekades is weinig gedoen buiten lippetaal om hierdie reg vir meer Suid-Afrikaanse kinders in alle inheemse tale moontlik te maak – inteendeel is Afrikaanse skole deurentyd onder druk om te verengels. Die minister maak ’n raskwessie daarvan en ignoreer gerieflikheidshalwe in haar ideologiese stryd die feit dat Afrikaanssprekendes aan alle rasse behoort. ’n Keuse vir Afrikaanse onderrig is nie ’n keuse om ’n bepaalde ras te bevoordeel nie,” sê Bailey.

AfriForum se kommentaar op die Bela-wetsontwerp toon duidelik aan dat die huidige wetgewing met die Grondwet belyn is, in teenstelling met die voorgestelde nuwe bepalings. “Indien hierdie wysigings geïmplementeer word, sal dit ’n onherstelbare, eensydige en permanente verbreking deur die ANC-regering van die grondwetlike skikking van 1994 wees,” voeg Bailey by.

Na verwagting sal die publiek ook die geleentheid kry om mondelinge insette oor die beplande wetgewing te lewer. AfriForum moedig alle belanghebbendes aan om daarvan gebruik te maak wanneer die departement inligting oor dié geleenthede beskikbaar maak. As teenstand faal, is AfriForum gereed om regstappe teen die wetgewing te neem.

Soortgelyke plasings