AfriForum veroordeel voorgestelde diskriminasie teen voormalige weermaglede

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag die voorgestelde wysigings aan die voordele van Militêre Veterane se pensioenregulasies 2022, soos gepubliseer vir openbare kommentaar deur die minister van Verdediging en Militêre Veterane, sterk gekritiseer.

Die organisasie is sterk teen die konsepregulasies gekant omdat dit net pensioenvoordele aan sekere gelyste “niestatutêre-lede” bied terwyl dit ander niestatutêre en alle statutêre-lede uitsluit. Dit maak die regulasies diskriminerend en ongrondwetlik deur slegs pensioenvoordele aan drie geselekteerde “niestatutêre magte” Umkhonto we Sizwe (MK), Azanian People’s Liberation Army (APLA) en Azanian National Liberation Army (ANLA) te verleen.

Effektief sluit die konsepregulasies pensioenvoordele van alle ander statutêre- en niestatutêre-lede uit, soos lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag tussen 1957 en 1994, lede van die Suid-Afrikaanse Kaapse Korps (SAKK), en lede van die weermag van die voormalige TBVC-state.

“Dit is duidelik dat dit net nog ’n selfsugtige tree deur die ANC-regering is om steun onder organisasies soos Umkhonto we Sizwe te probeer werf in die aanloop tot die komende verkiesing. AfriForum sal nie toelaat dat die regering dié veterane wat onbaatsugtig hul land met trots gedien het, vertrap nie,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

“Dit is ook ontstellend dat die minister slegs ’n tydperk van 30 dae vir skriftelike kommentaar gegun het, al is die konsepregulasies ter elfder uur van 2022 gepubliseer, wanneer die meeste Suid-Afrikaners met jaarlikse verlof vir die Desember-feestyd is.”

Soortgelyke plasings