|

Forum Nuus: Dié week se Blitsflits

AfriForum het vandeesweek ’n geskiedkundige gesamentlike inheemseveldbok-landbouontwikkelingsprojek afgeskop en in KwaZulu-Natal het twee AfriForum-takke die Departement van Vervoer gewaarsku oor die groot slaggate op die R33- en R34-paaie.

iNkosi Zwelothando Mabandla, AfriForum en die familieboernetwerk die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) het die gesamentlike inheemseveldbok-landbouontwikkelingsprojek in die AmaBhele kaJamangile-koninkryk naby Maclear in die Oos-Kaap amptelik afgeskop met die lewering van die eerste 21 Nguni-inheemseveldbokke op iNkosi Zwelothando se plaas, Mncetyane. Gerhard Lourens, van LGL Inheemseveldbokskilderstoet, het ook praktiese opleiding aangebied vir lede van die gemeenskap en iNkosi Zwelothando en sy span. Die projek het ’n beplande tydsverloop van ses jaar waarna die hoop is dat die projek heeltemal volhoubaar en winsgewend sal wees.

In KwaZulu-Natal het AfriForum se takke in Vryheid en Paulpietersburg ’n brief aan die Departement van Vervoer gerig wat die departement waarsku om die gevaarlike slaggate op die R33- en R34-paaie te herstel. Dit volg na verskeie klagtes van organisasies en die gemeenskap wat tot dusver op dowe ore geval het. 

Twee AfriForum-takke in KwaZulu-Natal het ‘n brief aan die Departement van Vervoer gerig oor die slaggate op die R33- en R34-paaie.

“Die R33 van Piet Retief is een van die vier hoofroetes na KwaZulu-Natal vanaf die noorde. Die dorpe op hierdie paaie gaan onder finansiële verliese gebuk omdat inwoners ander roetes oorweeg,” sê Eugene van Aswegen, distrikskoördineerder vir KwaZulu-Natal.

AfriForum het die departement gevra om met ’n herstelplan vorendag te kom waarin die paaie wat herstel gaan word duidelik uiteengesit word.

Verskeie AfriForum-buurtwagte in Bloemfontein het deelgeneem aan ’n operasie om die dieretuin te beveilig. Die bestuur van die dieretuin was raadop oor al die uitdagings met die plakkers op die perseel en het AfriForum se veiligheidstrukture om hulp genader. Die dieretuin huisves tans net een trop buffels en daar word vermoed dat van die buffelkalfies moontlik al deur die plakkers geslag is. Die operasie is saam met die SAPD aangepak. AfriForum se hommeltuie het lugbystand gebied en drie verdagtes is tydens die operasie in hegtenis geneem.

Verskeie AfriForum-buurtwagte in Bloemfontein het deelgeneem aan ’n operasie om die dieretuin te beveilig.

AfriForum se Laer-suidkus-tak het hul regspan opdrag gegee om die Ugu-distriksmunisipaliteit aan te maan om watertoevoer te herstel en te handhaaf. Dit volg nadat verskeie gemeenskappe aan die suidkus van Natal al tot drie maande lank sonder water moet klaarkom.

Volgens die munisipaliteit is ’n gebreekte pyp die rede vir die probleem. AfriForum het intussen ’n noodwaterpunt vir die gemeenskap by die NG Kerk Margate beskikbaar gestel.

Soortgelyke plasings