|

AfriForum-verslag oor NGV toon nóg slegte nuus vir belastingbetalers

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n verslag bekendgemaak oor die beoogde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) wat die hare van belastingbetalers sal laat rys. Die grootste rede tot kommer is hoe dié stelsel gefinansier gaan word.

Luidens die verslag word vier moontlik bronne van inkomste vir die NGV ondersoek wat ’n negatiewe impak op belastingbetalers sal hê. Een wat onder meer genoem word, is betaalstrokiebelasting. Hierdie opsie behels dat die regering van werkgewers gaan vereis om ’n gedeelte van hul werknemers se salarisse te verhaal wat dan aan die regering oorgedra sal word – dít bo-op die aftrekkings wat reeds van werknemers se salarisse verhaal word.

Suid-Afrika se marginale belasting is reeds een van die hoogstes in die wêreld.

Dis byvoorbeeld hoër as die van Kanada, Namibië en die VSA en omtrent gelyk met die van Switserland, Australië en Suid-Korea. Waar laasgenoemde drie lande oor die algemeen kan roem op goeie dienslewering kry Suid-Afrikaners nie veel terug vir die belastinggeld wat hulle betaal nie.

“NGV word maklik verkeerd opgesom met slagspreuke soos ‘gratis gesondheidsorg vir almal’, maar die verslag gee ’n tree terug om ’n meer nugter en objektiewe beeld te verkry, naamlik dat die beleid duur, ongemotiveerd en onwerkbaar is,” sê Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum.

Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum

Die gevare om gesondheidsorg in die hande van die staat te plaas is lankal bekend, so ook die ekstra kostes wat burgers sal moet aangaan wat steeds die opsie vir private mediese sorg wil behou. Daar is ook navorsing wat toon dat die uitvloei van gekwalifiseerde medici om groener weivelde te gaan soek, sal versnel indien die NGV wel in werking gestel word.

AfriForum se verslag verwys na die soortgelyke stelsel wat in die vroeë 1900’s in Rusland onder die vaandel van gelykheid vir almal ingestel is, maar uiteindelik gelei het tot twee mediese stelsels. Een was net toeganklik vir die politiese elite en die ander vir die res van die mense. Die elite se stelsel se dienste en sorg was van ’n vêr hoër gehalte as die waarop gewone inwoners uitgelewer was. Dit wil voorkom asof die NGV in Suid-Afrika op dieselfde gaan neerkom.

Heelwat beloftes is ook al oor die jare gemaak oor hoe staatshospitale opgeknap gaan word en dienste oor die algemeen verbeter sou word. Dit sluit in om leë poste by staatshospitale en -klinieke te vul, meer dokters en verpleegsters op te lei en lang rye by hospitale en klinieke uit die weg te ruim. Bitter min van hierdie beloftes is tot op hede vervul.

Die verslag gaan verder om te verduidelik dat die NGV onbekostigbaar is vir die land en dat daar juis in 2023 ’n kleiner persentasie van die nasionale bruto binnelandse produk (BBP) vir mediese sorg beskikbaar gemaak is. Dit dui daarop dat daar reeds druk op die land se finansies is. Voorts is daar voorbeelde van provinsiale gesondheidsdepartemente wat belastingbetalers se geld vermors het. Die Gautengse Departement van Gesondheid het byvoorbeeld ’n verlies van R148,9 miljoen gelei deur die verkryging van IT-infrastruktuur sonder om ander koste-effektiewe verskaffers te oorweeg.

Die ANC-regering is behep met die sentralisering van mag en om ten alle koste beheer oor staatsentiteite te behou. Korrupsie seëvier dikwels by staatsentiteite insluitend Eskom, die Suid-Afrikaanse Lugdiens en die Poskantoor met miljarde rande wat in die bodemlose putte in verdwyn. Sentralisering van mediese dienste onder die vaandel van NGV sal die deure vir korrupsie net nog wyer oopmaak.

AfriForum beskou die NGV as totaal onbekostigbaar en onaanvaarbaar en sal enduit daarteen baklei.

Die volledige verslag is beskikbaar by www.jougesondheid.co.za, waar die nuutste inligting oor NGV geplaas word.

Kyk die video oor dié verslag hier.

Soortgelyke plasings