|

AfriForum versoek makliker toegang vir misdaadslagoffers tot paroolverhore

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag in ’n skrywe aan Ronald Lamola, minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, versoek dat die bywoning en/of lewering van skriftelike voorleggings by paroolverhore deur misdaadslagoffers of hul naasbestaandes meer toeganklik moet wees vir almal. AfriForum het ook ’n verslag saamgestel oor die regte wat misdaadslagoffers of hul naasbestaandes in hierdie verband het.

Dié burgerregteorganisasie het bewus geword van verskeie misdaadslagoffers wat nie na behore betrek word by die paroolverhore van hul oortreders nie. Volgens die Dienshandves vir slagoffers van misdaad in Suid-Afrika het slagoffers en hul naasbestaandes sekere regte in terme van paroolverhore. Dit sluit in dat die polisie, aanklaer en korrektiewe beampte maatreëls in plek moet hê om seker te maak dat enige bydrae wat ’n misdaadslagoffer of naasbestaandes wil maak, in aanmerking geneem moet word by ’n misdadiger se paroolverhoor.

Die hof moet ook die slagoffers of hul naasbestaandes in kennis stel dat hulle ’n reg het om voorleggings te maak wanneer ’n misdadiger vir parool oorweeg word, asook dat hulle die paroolverhoor mag bywoon indien die misdadiger sekere gelyste misdade (insluitend moord en verkragting) gepleeg het.

Slagoffers wat ’n bydrae wil lewer, moet die tersaaklike paroolraad skriftelik in kennis stel indien hulle aan dié proses wil deelneem. “AfriForum is egter bewus van verskeie gevalle waar die kennisgewings wat per pos gestuur is nie beantwoord word nie. Daar is ook geen e‑posadres op die tersaaklike regeringswebtuiste nie en verskeie pogings om die kontaknommer op die webtuiste te skakel, was onsuksesvol omdat die oproepe nie beantwoord word nie,” sê Natasha Venter, bestuurder van Veldtogte by AfriForum.

Die wetgewing en regulasies sit die regte van slagoffers en hul naasbestaandes baie duidelik uiteen. “Ongelukkig blyk dit dat hierdie regte nie in alle gevalle deur die departement gerespekteer word nie – ons lees slegs van sekere hoëprofielsake waar misdaadslagoffers by die paroolproses betrek word. AfriForum het dus versoek dat die minister ’n e-posadres beskikbaar maak wat deurentyd beman word, asook dat hy verseker dat die vele misdaadslagoffers in hierdie land aan paroolverhore kan deelneem as hulle dit graag sou wou doen.”

Lees die verslag hier.

Soortgelyke plasings