|

AfriForum verwelkom behoud van Media24-joernaliste se poste – beklemtoon waarde van openbare druk

AfriForum het die nuus verwelkom dat 66 joernaliste uit die sowat 400 wat volgens aanvanklike berigte by Media24 hulle werk sou verloor, wel hulle poste sal behou. Die feit dat die behoud van die titels Beeld en Rapport ook heroorweeg word, al is dit net aanlyn, is ook as goeie nuus beskryf.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is dit noodsaaklik vir die voortbestaan van gehalte joernalistiek in Afrikaans dat hierdie gesoute mediamense se ervaring en kundigheid behou moet word. Die heroorweging van Media24 se besparingstappe bewys volgens haar ook weer die waarde van druk van die burgerlike samelewing om te verseker dat hulle belange nie in die gedrang kom nie.

“In die huidige era waar vals nuus en foutiewe berigte wat deur kunsmatige intelligensieprogramme geskep word, betroubare joernalistiek en etiese beriggewing bedreig, is dit noodsaaklik dat nuusbronne wat aan gehaltebeheer en instellings soos die persombudsman onderhewig is, beskerm en behou moet word,” meen Bailey. Sy het daarop gewys dat mediamaatskappye nie met ander besighede vergelyk kan word nie, aangesien dit ’n groot verantwoordelikheid teenoor die publiek het en letterlik sake van lewe en dood kan beïnvloed.

“Meer joernaliste beteken ook meer perspektiewe en direkte verteenwoordiging deur die land, plus minder herbruik van dieselfde berigte, wat noodsaaklik is om mense ingelig te hou en menings te vorm.”

“Veral vir die toekoms van Afrikaans as hoëfunksietaal is ’n dinamiese en uitgebreide mediaverteenwoordiging en beriggewing van die grootste belang. Joernaliste is dikwels diegene wat eerste woordeskat ontwikkel en nuwe tegnologie verstaanbaar aan die Afrikaanse lesersgemeenskap bekendstel. Minder Afrikaanse joernaliste beteken noodwendig ook ’n inkrimping van hierdie kreatiewe denkpoel, wat nie in die taal of die taalgemeenskap se belang is nie,” sê sy.

Die behoud van gedrukte media bly ’n saak waaroor AfriForum sterk voel. Hopelik sal daar ook in hierdie verband in die toekoms goeie nuus wees.

AfriForum se petisie teen die sluiting van die koerante duur steeds voort en die publiek kan dit onderteken by www.redrapport.co.za.

Soortgelyke plasings