|

AfriForum se Naboomspruit-tak bekamp rioolbesoedeling

Die AfriForum-tak in Naboomspruit het op 30 Julie verskeie brandpunte in dié dorp besoek waar grootskaalse rioolstorting en -lekkasies voortdurend plaasvind en ’n gesondheidsrisiko vir sowel die gemeenskap as die omgewing inhou.

Magdel Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo, het die Menseregtekommissie (MRK) en die Groen Skerpioene begelei op ’n besoek na onder meer ’n woning in Golfpark waar riool male sonder tal die erf oorstroom.

“’n Verstopping van die hoofpyplyn veroorsaak dat die erf deur onverwerkte riool oorstroom word.”

Volgens die eienaar van dié woning tree die munisipaliteit slegs reaktief op en probeer nie om dié probleem permanent op te los nie.

Nóg ’n gebied waar besoek afgelê is, is die plase en kleinhoewes in die Grootvalley-gebied buite Naboomspruit. Onverwerkte riool vloei in ’n stroom van ’n nabygeleë informele nedersetting tot by verskeie kleinhoewes. Ses kleinhoewes word deur dié besoedeling geraak en in sommige gevalle beland die riool selfs in die erwe.

Die inwoners van Naboomspruit het hulle misnoeë met die munisipaliteit se swak optrede met die MRK en die Groen Skerpioene gedeel.

Nadat ’n klag oor die besoedeling by die plaaslike polisiestasie aanhangig gemaak is, het die Groen Skerpioene ingetree om die saak te ondersoek.

“Ons verneem dat die dossier reeds by die polisiekantoor afgehaal is om strafregtelike klagtes teen die munisipaliteit te ondersoek,” sê Strauss.

Die rioolstorting is al jare lank ’n steen des aanstoots vir inwoners in Naboomspruit nadat die eerste klagtes reeds in 2008 onder die polisie, die plaaslike munisipaliteit en die Departement van Omgewingsake se aandag gebring is.

AfriForum het ook in 2013 ’n klag van besoedeling by die Naboomspruit-polisiestasie ingedien. Die dossier is sedert 2014 by die nasionale vervolgingsgesag (NVG).

Raak vandag nog by AfriForum se Naboomspruit-tak betrokke: SMS jou naam na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings