|

AfriForum se Mooinooi-tak begin petisie teen onwettige straatsmouse

Die AfriForum-tak in Mooinooi het op 24 Maart 2022 ’n skrywe aan die Madibeng Plaaslike Munisipaliteit gerig waarin hulle ’n aksieplan versoek het om oplossings te bied oor die onwettige straatsmouse in die dorp se hoofstraat. Die tak het ook ’n petisie van stapel gestuur teen dié straatsmouse en wil die gemeenskap aanmoedig om dit te ondersteun en te onderteken sodat die munisipaliteit tot aksie gedwing kan word.

AfriForum eis dat die Madibeng-munisipaliteit saam met die SAPD moet werk om die onwettige straatsmouse in Lonrhorylaan onder beheer te bring. Verder eis die organisasie ook dat die munisipaliteit hulle bywette sal toepas om sodoende boetes en verdere aksie te neem teen die onwettige smouse.

“Die munisipaliteit dwing nie die relevante bywette af om die straatsmouse onder beheer te bring nie. Daar is tans tientalle onwettige straatsmouse in Lonrhorylaan. Dit veroorsaak ’n toename in onwettige aktiwiteite in die dorp. AfriForum het baie klagtes ontvang van mense uit die gemeenskap wat verneem dat die straatsmouse onwettig alkohol sowel as dwelmmiddels verkoop. Die straatsmouse hou daarom ’n ernstige veiligheidsrisiko in vir die inwoners van Mooinooi. AfriForum is hoopvol dat die probleem danksy volgehoue druk en met die hulp van die gemeenskap sal verbeter,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

Klik hier om die petisie te teken. Word vandag nog deel van AfriForum se Mooinooi-tak: SMS “Mooinooi” na 45344 (R1) of skakel vir Alie Chamberlain by 078 874 3973.

Soortgelyke plasings