AfriForum verwelkom gewysigde staatskapingsregulasies


Die burgerregte-organisasie AfriForum verwelkom die gewysigde staatskapingsregulasies wat vanmiddag deur president Cyril Ramaphosa aangekondig is en bestempel dit as ’n oorwinning vir diegene wat wil sien dat geregtigheid seëvier in die lang, uitgerekte staatskapingsage.
AfriForum het meer as ’n maand gelede ’n aansoek by die Konstitusionele Hof ingedien om regulasie 8(2) van die kommissieregulasies, wat deur oudpresident Jacob Zuma aangekondig is, tersyde te stel. Dié regulasie het bepaal dat geen getuienis wat voor die staatskapingskommissie gelewer word in strafverrigtinge toelaatbaar sou wees nie.
AfriForum het in sy aansoek aangevoer dat Zuma die regulasies op só ’n manier opgestel het omdat hy homself van vervolging wou vrywaar. Die burgerregte-organisasie het op sterkte daarvan ’n tersydestellingsaansoek by die Konstitusionele Hof ingedien.
Die wysiging van dié regulasie deur president Ramaphosa maak verdere regsoptrede deur AfriForum nou onnodig, aangesien die gewysigde regulasie daarvoor voorsiening maak dat getuienis wat voor die kommissie dien wel in latere strafverrigtinge as getuienis gebruik kan word, tensy ’n getuie hom/haarself inkrimineer.
Willie Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger, het dié verwikkeling verwelkom as ’n oorwinning vir AfriForum en vir almal wat wil sien dat Zuma vervolg word vir sy aandeel die grootskaalse plundering van staatsbates deur die Gupta-familie.

Soortgelyke plasings