|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum het vandeesweek twee aansoeke ingedien om meer inligting van Transnet en die land se openbare universiteite te kry. Daarbenewens het die organisasie se takke en buurtwagte gehelp om verdagtes vas te trek en ’n sakeontbyt is in Parys gehou om oor die dorp se voortslepende waterprobleme te praat.

AfriForum het ’n formele aansoek ingevolge die Wet op Bevordering van Inligting (PAIA) by Transnet ingedien om onder meer inligting te kry oor die sluit van kontrakte met private sekuriteits-, logistieke en vragmaatskappye, ’n lys van treinwaens, lokomotiewe en motorvoertuie in Transnet se besit asook hoeveel spoorlyne gesluit is. Die inligting is nodig aangesien korrupsie hoogty voer by staatsondernemings.

Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum

AfriForum Jeug se aansoek by die universiteite het ten doel om inligting oor hul rasseklassifikasie-beleid te bekom wat byvoorbeeld gebruik word om te bepaal hoeveel studente van ’n bepaalde ras toegelaat word om sekere studierigtings te volg en plek in koshuise kan kry. ’n Groep beswaarde studente het die aansoek per hand by die Universiteit van Pretoria (UP) ingedien. Hulle meen Afrikaners is ook Afrikane wat in Suid-Afrika gebore is en hier hoort.

Motorkapers het hul rieme styfgeloop toe hulle ’n Nissan-bakkie naby Brits gekaap het. AfriForum se Brits-tak se protospan het onmiddellik na die toneel gehaas en beheer van die situasie geneem. Die polisie in Brits en Secure Guarding het die verdagtes agternagesit en al drie is aangekeer.

Krane in Parys is weereens in 2023 droog gelaat weens die onbeholpe Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit. AfriForum het ’n sakeontbyt op die dorp aangebied waar daar besluit is om ’n waterforum op die been te bring waarby verskeie organisasies en gemeenskapslede betrokke gaan wees. Dié forum sal ’n volhoubare plan vir watersekerheid opstel en van stapel stuur.

Dr. Marlene van der Merwe Botha, water- en waterafvalspesialis by die Suider-Afrikaanse Waterinstituut (WISA) in Johannesburg

AfriForum en Solidariteit Helpende Hand het met die #EkIsWondermeisie-veldtog by die Laerskool Muldersdrift besoek afgelê. AfriForum se teenboelieveldtog en Helpende Hand se FroueVonds en #HelpHetta-projek werk vir die doel saam om ’n verskil in meisies se lewens te maak. Opleiding word aangebied om verskillende kwessies soos verwerping, selfverdediging, mishandeling en groepsdruk te hanteer.

Met die onlangse vloed in Christiana het die AfriForum-tak en -buurtwag gehelp om gestrande mense te ontruim en meer patrollies is gery om misdaad te bekamp. Skenkings uit die gemeenskap is ook na behoeftige mense versprei. Voorts is borde aangebring om mense in te lig oor paaie wat onbegaanbaar is.

AfriForum het in Christiana borde aangebring om mense oor die gevare van vloedwater te waarsku.

Soortgelyke plasings