AfriForum verwelkom heroorweging van verbod op buitemuurse skoolaktiwiteite

AfriForum verwelkom Angie Motshekga, die minister van Basiese Onderwys, se oorweging om die skorsing van alle buitemuurse skoolaktiwiteite, insluitend programme vir niekontaksport, op te hef. Dít volg nadat die burgerregteorganisasie op 22 September ’n aanmaning in hierdie verband aan die departement gestuur en die minister versoek het om die ongegronde skorsing op te hef.

Motshekga het in reaksie op AfriForum se skrywe gesê die departement stel voor dat niekontaksport en ander aktiwiteite moet kan voortgaan mits daar voldoen word aan maatreëls om die verspreiding van COVID-19 te verhoed. Die aankondiging moet egter nog in die Staatskoerant gepubliseer word.

AfriForum se aanmaning volg ná die verspreiding van ’n memorandum deur Cedric Ranchor, die direkteur van Skolesport en Buitemuurse Koördinering van die Gautengse Onderwysdepartement, aan skole in dié provinsie oor die opskorting van alle sportsoorte. Die departement het verder in Junie regulasies gepubliseer oor die opskorting van alle buitemuurse skoolaktiwiteite, maar dit is nog nie hersien nie, ten spyte daarvan dat die land tans op vlak 1 van die inperking is.

Ronald Peters, AfriForum se bestuurder van Sport, sê die algehele welstand van jongmense  is glad nie in ag geneem met die oorspronklike besluit nie. “Daar was geen wettige, rasionele en regverdigbare rede waarom die opskorting van alle skoolaktiwiteite steeds geldig moes wees nie. Sport en ander buitemuurse aktiwiteite speel ’n integrale rol in die algehele welstand en ontwikkeling van kinders.”

“Hoewel ons nie die erns van die COVID-19-pandemie kan onderskat nie, het navorsing bewys dat die virus minimale risiko vir kinders inhou. Die uitwerking op die welstand van kinders as gevolg van die opskorting van sport en buitemuurse aktiwiteite kon egter sielkundige skade aanrig en ons skrywe aan die departement het ten doel gehad dat hulle hierdie faktore ook in ag behoort te neem,” sluit Peters af.

Soortgelyke plasings