Water
|

Stellaland-takke toets vir cholera

Die AfriForum-takke in Christiana en Bloemhof het op 9 Junie watermonsters geneem om vas te stel of daar cholera teenwoordig is in die rivier of in dié dorpe se drinkwater.  Daar is op twee verskillende plekke in elke dorp monsters geneem om by ’n geakkrediteerde laboratorium getoets te word.

Die uitslae van die watermonsters is op 12 Junie ontvang. Hoewel daar nie op een van hierdie plekke tekens van cholera gevind is nie, is daar egter in albei riviere se watermonsters tekens van E.coli en fekale kolivorme gevind. Dit beteken dat daar rou riool in die rivier is, wat ander siektes as cholera kan veroorsaak. 

“Die resultate wys dat daar wel tekens is dat riool in die rivier gestort word en daarom wil ons inwoners aanmoedig om nie water uit die rivier te gebruik nie. Ons raai inwoners aan om ook hul diere weg te hou van hierdie waterbronne af,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

Hierdie AfriForum-takke is ook reeds besig om ’n vergadering met die Lekwa-Teemane Plaaslike Munisipaliteit te reël waar hulle verskeie punte rakende die waterkwessies in dié dorpe sal bespreek.

“AfriForum sal aanhou om druk toe te pas op munisipaliteite om te verhoed dat ons waterbronne besoedel word. Dit is belangrik dat almal die erns hiervan insien en dat owerhede aanspreeklik gehou word vir hul optrede wat lei tot besoedeling,” sê Nel.

Raak vandag by jou naaste AfriForum-tak betrokke om ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak. Besoek www.wordlid.co.za

Soortgelyke plasings