|

AfriForum verwyder 436 huishoudings se vullis in Mookgophong

Te danke aan AfriForum se Naboomspruit-tak in Mookgophong is die residensiële area van Golfpark nou baie skoner en meer higiënies. Teen Vrydag 24 Mei was talle huishoudings se vullis ná sewe dae nog steeds nie verwyder nie. Die Naboomspruit-tak het dit op hulself geneem om ’n privaat vullisverwyderingsmaatskappy te kry om 436 huishoudings se vullis te verwyder.

Verskeie gemeenskapslede het hulle misnoeë uitgespreek oor die Mookgophong Plaaslike Munisipaliteit se onvermoë om vullis te verwyder. Vullis het buite huise opgehoop en die munisipaliteit se enigste verskoning hiervoor is dat daar tans slegs een werkende vullisverwyderingstrok is en twee ander wat op die oomblik stilstaan.

“AfriForum se Naboomspruit-tak het noodgedwonge ingespring om hierdie verligting en hulp aan die gemeenskap te bied. Hierdie is egter net ’n tydelike oplossing. AfriForum sal alle moontlike roetes en remedies oorweeg om druk te plaas op die munisipaliteit en sodoende te verseker dat inwoners die dienste kry waarvoor hulle betaal,” sê Hendrik Kotze, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Limpopo.

AfriForum moedig gemeenskapslede in Mookgophong aan om by hul plaaslike organisasies en strukture betrokke te raak om verdere verval in die dorp te stop.

Besoek www.wordlid.co.za om vandag nog by AfriForum se Naboomspruit-tak betrokke te raak.

Soortgelyke plasings