AfriForum eis deursigtigheid oor staatsuitgawes vir die 2023 BRICS-beraad

Die burgerregteorganisasie AfriForum versoek presiese besonderhede van die Suid-Afrikaanse regering rakende sy uitgawes vir die 2023 BRICS-beraad wat van 22 tot 24 Augustus plaasgevind het. AfriForum eis in sy PAIA-aansoek aan die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking (Dirco) onder meer ’n uiteensetting van beraadverwante koste, die aantal personeel betrokke by en hul rolle tydens die beraad, enige uitgawes weens veranderinge in die ontplooiing van sekuriteitspersoneel, ’n lys van veiligheidsmaatreëls wat in Johannesburg en verwante plekke tydens die beraad ingestel is, en enige bykomende relevante rekords of kommunikasie wat verband hou met staatsuitgawes vir hierdie beraad.

Tydens die beraad is die gebrul van vegvliegtuie dikwels in die lug gehoor, selfs tot vier dae ná die beraad. Verkeersbeamptes is by belangrike verkeersligte ontplooi en veiligheidspersoneel is in diens geneem om die verrigtinge te beveilig. Beurtkrag was minder tydens die beraad, net om daarna na fase 6 verhoog te word. Daar is dringend aandag gegee aan stukkende verkeersligte, netheid van strate en instandhouding van geboue. Alhoewel hierdie maatreëls daagliks verwag word en vir die beraad geïmplementeer is, skiet die regering tekort om konsekwente dienslewering oor hierdie aangeleenthede te verseker in gevalle waar internasionale leiers nie teenwoordig is nie.

“Gegewe die regering se berugte rekord van wanverdeling van geld en korrupte tenders, en die klaarblyklik aansienlike finansiële toekennings wat vir hierdie beraad gemaak is, behoort hierdie inligting vir die publiek beskikbaar gemaak te word. Dit is veral belangrik as ’n mens die regering se beperkte hulpbronne in ag neem om kwessies soos misdaad, beurtkrag en padinstandhouding oor die hele Suid-Afrika heen op te los,” sê Charné Mostert, veldtogbeampte by AfriForum.

“AfriForum bly onwrikbaar in sy verbintenis om die beginsels van deursigtigheid, aanspreeklikheid en fiskale verantwoordelikheid binne die sfeer van openbare bestuur te verdedig. In ooreenstemming met hierdie toewyding wil ons verseker dat alle uitgawes op die onlangse BRICS-beraad wat deur die Suid-Afrikaanse regering gereël is, regmatig is en behoorlik toegewys is. Die publiek het die reg om te weet hoe die regering hulpbronne toegewys en bestee het om hierdie wêreldberaad aan te bied,” sluit Mostert af.

Soortgelyke plasings