|

Paarl-tak plant bome by Laerskool Noord-Eind

AfriForum se Paarl-tak, wat in Julie vanjaar gestig is, het op 29 September 12 bome by die Laerskool Noord-Eind in die Paarl geplant.

“Die skool het ’n behoefte aan koeltebome gehad. Nadat die tak die versoek oorweeg het, is daar besluit om die volgende vier soorte inheemse bome te plant: rooiels (Cunonia capensis), karee (Searsia lancea), wildeperske (Kiggelaria africana), en die rooi-essenhout (Ekebergia capensis),” sê Jaco Prins, voorsitter van die AfriForum-tak in Paarl.

“Dit is vir ons belangrik dat die jeug van kindsbeen af reeds die waarde asook die simboliek van bome verstaan. Ons hoop is dat hierdie bome saam met die leerders sal groei, en dat die leerders, nadat hulle die skool verlaat het, met trots sal terugkeer om na die bome te kom kyk wat hulle gehelp plant het sodat hulle nageslag in die koelte kan sit,” sluit Prins af.

Die tak moedig die Paarl-gemeenskap aan om by dié AfriForum-tak betrokke te raak en ’n daadwerklike verskil in hul gemeenskap te maak. SMS: “Paarl” na 45350 (R1) om aan te sluit.

Soortgelyke plasings