|

Kyk: AfriForum- en Solidariteit-personeel sê #OnsSalSelf skoonmaak en opknap

Personeel van AfriForum en Solidariteit het gister self moue opgerol om die gebied rondom dié organisasies se hoofkantore in Pretoria skoon te maak as deel van AfriForum se #OnsSalSelf-projek. Ongeveer 300 personeellede het sypaadjies en ’n nabygeleë veld skoongemaak, padtekens weer duidelik geverf en slaggate gevul. Herwinningsasblikke is ook geverf sodat dit na verskeie AfriForum-takke versprei kan word.

Net soos AfriForum-takke landwyd eienaarskap van hul onderskeie gemeenskappe neem, het die personeel besluit om eienaarskap van die gebied om die kantore te neem en om met hierdie projek hul ondersteuning aan die takke te toon.

Die vrywilligers wat by AfriForum se takke betrokke is, skrik nie vir harde werk nie en het lank reeds besluit dat hulle alles in hulle vermoë sal doen om staatsverval te stuit. Die takke het sedert die begin van die jaar 582 skoonmaakprojekte aangepak waaronder 163 parke skoongemaak is en 578 slaggatprojekte is met ongeveer 250 ton teer voltooi.

AfriForum werk al vir etlike jare om selfstandige gemeenskappe te vorm wat onafhanklik van die regering funksioneer. Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is hierdie projek deur AfriForum en Solidariteit ’n voorbeeld van wat ons self kan doen met ons eie hande, sonder om afhanklik te wees van die owerhede.

“Dit is bevrydend om te weet dat ons nie uitgelewer is aan die verval wat deur die owerheid veroorsaak word nie, maar dat ons in staat is om met ’n ons sal self-gesindheid self die gemeenskappe tot stand te bring waarin ons ons kinders wil grootmaak,” sê Kriel.

Corné Cronjé, bestuurder van Gemeenskapstrukture by AfriForum, het benadruk dat mense by hul plaaslike AfriForum-strukture betrokke moet raak om deel te wees van die verskil. “Dit is lekker om terug te gee aan die gemeenskap. Dit is vir ons baie belangrik om eienaarskap te neem van ons omgewing en om self skoon te maak en te herstel daar waar die regering en munisipaliteit hulle pligte versuim.”

Soortgelyke plasings