AfriForum vra vir beslissende leierskap by Eskom ná nog verliese en onreëlmatighede


Die burgerregte-organisasie AfriForum is van mening dat Eskom se leierskap nog veel meer beslissend moet optree om dié sukkelende energieverskaffer om te draai. Eskom het aangekondig dat dit ’n voorbelaste verlies van R2,6 miljard en onreëlmatige besteding van bykans R20 miljard tydens die 2017/2018-boekjaar aangeteken het.

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum, sê hoewel die nuwe direksie en bestuur se moeite en eerlikheid waardeer moet word, is daar nog veels te min om oor opgewonde te raak. “Hulle het darem nou al die onreëlmatige uitgawes sedert 2012 ingesluit en hoe staatskaping by Eskom gewerk het in ag genome, is dit geen verrassing dat dit nou soveel is nie,” sê Brink.
Hy meen dit is goed dat Eskom na die waarheid soek, maar die resultate is gekwalifiseer en daarom nie noodwendig volledig of korrek nie. “Dit kan ook ’n manier wees om slegs die 2017/2018-boekjaar se onreëlmatige uitgawes te laat wegraak in vorige jare se onreëlmatige besteding en wanbestuur. Elke jaar moet op sy eie meriete beoordeel word en daarna kan die skuld aan die betrokke partye toegedeel word.
“Daar is nog té veel beloftes van hoe dinge omgedraai word en té min bewyse van hoe korrupsie en ander uitdagings aangespreek word. Uit sowat 250 klagtes deur fluitjieblasers is daar tans steeds slegs tien kriminele klagtes gelê en die publiek weet nie hoe daar teen wie opgetree is nie,” aldus Brink.
Hy sê dat Eskom nou bewyse moet lewer van hoe die onreëlmatige besteding en ander probleme by die elektrisiteitsverskaffer aangespreek word. “Hulle is darem al van die begin van die jaar af in die saal en hoewel dinge nie oornag by Eskom reggeruk gaan word nie, moet hulle nou op uitkomste eerder as beloftes begin fokus. Beter toekomstige finansiële resultate sal egter die huidige probleme aanspreek.
“AfriForum sal vrae oor hierdie resultate aan Eskom rig en voortgaan om namens die publiek en besighede as waghond vir verantwoordbaarheid by Eskom op te tree,” sluit Brink af.

Soortgelyke plasings