AfriForum waarsku: NVG gaan nie reggeruk word met dié wysigingswetsontwerp nie

Die Wysigingswetsontwerp op die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) is soos ’n hond sonder tande en bevat nie naastenby voldoende maatreëls om die huidige probleme by die NVG te takel nie. Só meen die burgerregteorganisasie AfriForum wat vandag sy skriftelike kommentaar op dié wetsontwerp ingedien het. Die NVG-wetsontwerp dien tans voor die Nasionale Raad van Provinsies (NRP).

AfriForum het reeds verskeie ooglopende tekortkominge in sy skriftelike kommentaar uitgewys voordat die Nasionale Vergadering (NV) die wetsontwerp op 5 Desember verlede jaar met enkele wysigings goedgekeur het. Die wysigings het egter nie aandag gegee aan die substantiewe probleme van die wetsontwerp nie.

Benewens die tekort aan voldoende maatreëls om die NVG se probleme die hoof te bied, is daar ook verskeie ander onaanvaarbare aspekte van die wetsontwerp, voer Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, aan. Dit sluit onder meer in die nalating om parlementêre oorsig voor te skryf wat die risiko van politieke inmenging in die NVG verhoog. AfriForum voer voorts aan dat die implementering van die wetsontwerp in sy huidige formaat waarskynlik tot ’n ernstige afname in vertroue in die Suid-Afrikaanse strafregstelsel kan lei.

AfriForum se kommentaar benader die saak proaktief en stel verskeie oplossings voor vir bogenoemde aspekte. Dit maak ook voorstelle ten opsigte van die verbetering van die NVG se operasionele doeltreffendheid.

“As die NVG nie funksioneer soos hy moet nie, gaan misdadigers nie vervolg word nie. Punt. AfriForum sal nie bloot toekyk hoe swak gehalte wetgewing ingestel word om so ’n belangrike entiteit te reguleer nie,” sê Boshoff.

Intussen bou AfriForum sy eie privaatvervolgingseenheid verder uit om te verseker dat vervolging kan voortgaan selfs al verswak die NVG verder.

Soortgelyke plasings