|

Overstrand-tak se Alfa-buurtwag hou gemeenskap só veilig

AfriForum se Alfa-buurtwag het die afgelope maand verskeie suksesse behaal in die voorkoming en bekamping van misdaad en bied geweldige ondersteuning aan sowel die SAPD as ander veiligheidsrolspelers in die gemeenskap.

Die buurtwag het in samewerking met AfriForum se Bravo-buurtwag in Fisherhaven, Overstrand-wetstoepassing en die SAPD gehelp om ’n gesteelde voertuig in Hawston op te spoor. Dié buurtwag het ook verskeie verdagtes wat by ander misdaadaktiwiteite betrokke was vasgetrek en aan die SAPD oorhandig sodat die sake ondersoek kan word.

Verder het die tak aan verskeie hommeltuigoperasies saam met ander rolspelers en AfriForum-buurtwagte regoor Suid-Afrika deelgeneem. Die SAPD, Overstrand-wetstoepassing se taakspan, CapeNature en die Departement van Bosbou en Visserye het ook operasies saam met dié buurtwag uitgevoer.

Hierdie buurtwag het al ’n geruime tyd samewerkingsooreenkomste met verskeie privaat sekuriteitsmaatskappye in die area wat help om die omgewing te beveilig. Deurentyd verleen hulle lugsteun in die Fernkloof-natuurreservaat om misdaad te takel en reageer gereeld op plaasaanvalle in die Overberg-area. Op 29 Junie het die buurtwag die SAPD gehelp om buitelanders na veiligheid te bring ná onrus in Zwelihle.

“AfriForum se Overstrand-tak en die Alfa-buurtwag is steunpilare in hul gemeenskap. Lourens Theron, die tak se veiligheidsvoorsitter en buurtwagleier, is passievol oor veiligheid en die buurtwag en hul suksesstories spreek vanself. Die dorp en sy mense is veiliger danksy die Alfa-buurtwag,” sê Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.

Lede van die gemeenskap word aangemoedig om by AfriForum se Overstrand-tak en Alfa-buurtwag betrokke te raak: Skakel Jacques Benade by 081 217 0008.

Soortgelyke plasings