|

AfriForum woon akademiese konferensie oor Afrikaans in België by

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum en hoof van die burgerregte-organisasie se internasionale skakeling, het gister die Universiteit van Gent se jaarlikse akademiese konferensie oor Afrikaans in België bygewoon.

Dié konferensie het afgeskop met die Sarton-gedenklesing, wat vanjaar vir die eerste keer deur ‘n Suid-Afrikaner, prof. Steward van Wyk van die Universiteit van die Wes-Kaap, aangebied is. Dié lesing gedenk die vader van die dissipline van die geskiedenis van wetenskap, George Sarton (1884-1956), ʼn bekende oudstudent aan die Universiteit van Gent.

Van Wyk se lesing het gehandel oor swart Afrikaanse skrywers se hantering van die Suid-Afrikaanse verlede in letterkunde. Daarna het konferensiegangers ʼn gesellige aandete geniet by die universiteit se kultuursentrum, Het Pand, wat voorheen ʼn Dominikaanse kerk en klooster was.

Vandag word die program voortgesit waartydens Bailey ‘n referaat oor AfriForum se betrokkenheid by taalbeleide in Suid-Afrika ter behoud van Afrikaans sal lewer.

Bailey het ook as deel van haar besoek aan Berchem in België met mnr. Steven Vergauwen van die Vlaamse Volksbeweging en ook sekretaris van die International Commission of European Citizens (ICEC), ontmoet. Sy het ook gesprekke gevoer met mnre. Willy de Meyer en Jan Gunst, onderskeidelik die voorsitter en sekretaris van Vrienden van Zuid-Afrika.

Dié organisasie, wat ʼn sterk fokus op taal en taalregte het, het ten doel om verhoudings tussen alle Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners en Vlaminge te bevorder en volgens Bailey sal goeie samewerking voortaan tussen AfriForum en dié organisasie bevorder word.

Dié toer en ontmoetings vind plaas as deel van AfriForum se Europese skakeltoer om internasionale betrekkinge tussen die burgerregte-organisasie en ander Afrikaanse stamlande verder uit te bou.

Soortgelyke plasings