| |

AfriForum woon openbare verhoor in Port Elizabeth oor omstrede BELA-wet by

Verteenwoordigers van die burgerregteorganisasie AfriForum het die openbare verhoor oor die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (beter bekend as die BELA-wet) op 10 en 11 Junie in Queenstown en Port Elizabeth bygewoon. Dirk Burger, voorsitter van die Port Elizabeth-tak, het namens AfriForum ’n voorlegging by dié verhoor gelewer. Burger het beklemtoon dat die ANC se poging om meer mag oor skole in die land te bekom, vernietigend vir gehalte onderrig oor die algemeen en Afrikaanse onderwys in die besonder sal wees.

AfriForum het beklemtoon dat die voorstelle in die wetsontwerp dat die provinsiale onderwyshoofde voortaan die finale sê oor onder meer die toelatings- en taalbeleid van skole moet hê, die mees aanvegbare aspek daarvan is. Dit kom neer op onaanvaarbare toenemende magsentralisasie in die hande van die staat.

Tans geld die bepalings van die Skolewet wat ’n positiewe samewerkingsmodel tussen die staat en skoolgemeenskappe, soos verteenwoordig deur beheerliggame van skole, behels. AfriForum se standpunt is dat beheerliggame as demokraties verkose verteenwoordigers van ouers, leerders en plaaslike skoolgemeenskappe, die beste in staat is om die behoeftes van hul skole te bepaal en die mees gepaste insette kan lewer om te verseker dat kinders toegang tot uitnemende onderwys in ’n vormende opvoedkundige en kulturele omgewing kan geniet. Kwessies soos die taalbeleid en toelatingsvereistes moet die behoeftes van die gemeenskap dien, nie ’n sentrale regeringsverteenwoordiger wat dikwels onbeskaamd ’n politieke agenda dryf nie.

“AfriForum is ook bekommerd oor gedeeltes van die wetsontwerp wat bots met die Grondwet, bestaande wetgewing en uitsprake van die Konstitusionele Hof. AfriForum is geheel en al teen die aanvaarding van die wysigingswetsontwerp gekant. As dit in die huidige formaat aanvaar word, sal litigasie beslis daarteen volg, wat net meer belastinggeld sal mors,” sê Wikus van der Walt, distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap.

Maak vandag nog ’n verskil in jou gemeenskap en raak by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke. Klik hier om aan te sluit.

Soortgelyke plasings