|

Sekere Wes-Kaapse munisipaliteite die beste in die land, maar sommiges sukkel, wys verslag

Volgens die burgerregteorganisasie AfriForum se Sentrum vir Plaaslike Regering vaar munisipaliteite in die Wes-Kaap uitstekend in talle opsigte, maar nie almal presteer ewe goed nie. Dit is die gevolgtrekking in ’n oudit van die provinsie se munisipaliteite wat volg op die organisasie se vorige oudits van Noordwes, Gauteng en Mpumalanga.

Volgens dr. Eugene Brink, bestuurder van die Sentrum vir Plaaslike Regering by AfriForum, kan die Wes-Kaapse munisipaliteite in die algemeen spog oor hul toestand. “Veral vergeleke met munisipaliteite in die res van die land, is hulle drinkwater skoner en meer huishoudings het kraanwater in hul huise. Hoë persentasies huishoudings leef in formele behuising, geniet weeklikse vullisverwydering en gebruik elektrisiteit vir beligting.

“14 munisipaliteite in die provinsie het ook skoon oudits ontvang en dit is ongehoord van in die konteks van plaaslike regering in Suid-Afrika. Voorts het vyf munisipaliteite tot by skoon oudits gevorder tussen die laaste twee boekjare. Dit is nog ’n seldsame en lofwaardige verskynsel en iets wat hul verbintenis tot responsiewe en verantwoordbare regering wys. Ongematigde en onreëlmatige uitgawes het ook tussen die laaste twee boekjare aansienlik gedaal.”

Brink sê om hierdie redes het heelwat van hierdie munisipaliteite tellings bo agt uit tien ontvang. “Plaaslike munisipaliteite soos Witzenberg en Swartland is van die beste in die land en die Kaapstad-metro is by verre die beste metropolitaanse munisipaliteit. Ons ontledings van ander provinsies se munisipaliteite bewys dit en ofskoon skoon oudits nie noodwendig beteken dat als vlot verloop nie, is daar wel ’n sterk verband tussen ouditresultate, goeie bestuur en die gehalte van dienslewering.”

Desondanks is daar ook uitdagings in die provinsie se munisipaliteite. “Die Kaapstad-metro het nie ’n skoon oudit behaal nie en het R669 miljoen se onreëlmatige besteding aangegaan. Die ouditeur-generaal (OG) het ook uitgewys dat die provinsie se munisipaliteite oor goeie finansiële kontroles beskik, maar nie oor voldoende voorkomende kontroles wat voldoening aan wette en regulasies betref nie. Kommer is ook uitgespreek oor groot bedrae geld wat nie meer ingevorder kan word nie en die langtermynvolhoubaarheid van sommige munisipaliteite in gedrang plaas. Die OG het Beaufort-Wes, Kannaland en Laingsburg vir ingryping uitgesonder en het ook om verskeie redes swakker tellings in die verslag ontvang.”

“Gegewe die totale verval van munisipale dienste regoor Suid-Afrika is dit duidelik dat daar steeds in sekere munisipaliteite die politieke wil is om dienste werklik volhoubaar te lewer. Ons sien dat hierdie dienste oorwegend meer in die Wes-Kaap plaasvind. Daarom sal AfriForum steeds voortgaan en het ons ’n rol om te speel binne die area om te verseker dat daar aangehou word om dienste op hierdie vlak te lewer, maar ook dat ons toetree en kyk hoe ons saam met die onderskeie regerings kan werk om te verseker dat gemeenskappe se belange beskerm word,” sê Morné Mostert, bestuurder vir plaaslikeregeringsake by AfriForum.

Klik hier om die volledige verslag te lees.

Soortgelyke plasings