|

Voormalige munisipale bestuurder skuldig bevind ná AfriForum ingryp

Nevie Aubrey Baartman, voormalige munisipale bestuurder van die Nama Khoi Plaaslike Munisipaliteit, is op 12 Junie in die Springbok Landdroshof skuldig bevind aan die pleging van ’n misdryf ingevolge die Munisipale Finansiële Bestuurswet. AfriForum se Springbok-tak het ’n sleutelrol gespeel in Baartman se vervolging en uiteindelike skuldigbevinding. 

Die Springbok-tak was al by verskeie munisipale hofsake en aangeleenthede betrokke. Een van die sake wat opgeduik het was ’n saak in 2013 oor potensiële ongerymdhede met tenders wat deur Baartman gepleeg is. 

Dié tak het die relevante inligting oor die beweerde bedrog aan ’n forensiese ondersoekbeampte oorhandig, wat die tak gehelp het om ’n forensiese klag by die Valke aanhangig te maak. Die Valke het die klagte oorweeg en kort daarna besluit om Baartman en ander partye krimineel te vervolg.

“Ons is verheug oor hierdie uitspraak en ons hoop dat Baartman ook uiteindelik aanspreeklik gehou gaan word vir sy ander onwettige aktiwiteite. Hierdie is ’n groot oorwinning vir die Springbok-tak wat al jarelank met hierdie saak stoei. Ons is bly dat geregtigheid uiteindelik geskied het,” sê Sarel Stone, voorsitter van AfriForum se Springbok-tak. 

Hierdie is slegs een van die sake waarin Baartman geïmpliseer word, AfriForum sal egter aanhou om druk toe te pas dat die ander sake ook ondersoek kan word en moontlik lei tot verdere vervolging. 

“Die ouditeur generaal maak dit jaar na jaar duidelik dat die misbruik van voorsieningskettingsbeheer ’n wesenlike impak op dienslewering van munisipaliteite het. Hierdie kernprobleem moet nie net krimineel ondersoek word nie, maar ook fisies in munisipaliteite aangespreek word anders sal munisipaliteite net verder en verder agteruitgaan,” sê Morné Mostert, bestuurder van plaaslikeregeringsake by AfriForum.

“Ons sien dat die lewering van dienste soos water, riool, en vullisverwydering ook ’n probleem in munisipaliteite is en dit beklemtoon verder die wanbestuur by hierdie munisipaliteite.”

Soortgelyke plasings