AfriForum wys foute uit in Nasionale Vervolgingsgesag- (NVG) wetsontwerp deur skriftelike kommentaar in te dien

Die burgerregteorganisasie AfriForum het skriftelike kommentaar ingedien op die wetsontwerp oor die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG). In hierdie kommentaar word die leemtes en skuiwergate in die huidige vorm van die wetsontwerp duidelik uitgewys. Van die probleme met die wetsontwerp sluit in dat dit nie oplossings bied vir die huidige probleme met die NVG nie, dat dit nalaat om parlementêre oorsig voor te skryf, dat dit ruimte laat vir politieke inmenging in die Vervolgingsgesag en dat dit sal lei tot verminderde vertroue in die Suid-Afrikaanse strafregstelsel.

Volgens AfriForum sal die onvermoë van die huidige NVG-wetsontwerp om diepgewortelde gebreke binne die strafregstelsel die hoof te bied ’n beduidende struikelblok bly in die strewe na ware geregtigheid vir Suid-Afrika.

“Daar is tans 14 verskillende wetsontwerpe wat deur die ANC gedryf word wat byna almal deurspek is met ideologiese motiewe, en hierdie is geen uitsondering nie,” sê Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum. “Daar is inderdaad ruimte vir verandering aan die huidige vorm van die NVG, maar dan moet dit nie deur politici misbruik word om hul eie agendas te pas nie.”

AfriForum se kommentaar benader die saak pro-aktief en stel verskeie oplossings voor, soos om klousules in te sluit wat parlementêre oorsig vereis, wat politieke inmenging verhinder en wat die operasionele doeltreffendheid van die NVG sal verbeter.

Die organisasie stel onder meer voor dat die NVG operasionele outonomie moet hê met ’n aparte begroting wat die NVG sal beskerm teen politieke inmengery en finansiële manipulasie.

Bykomend hiertoe word die burgerregteorganisasie se privaatvervolgingseenheid ook uitgebou om te verseker dat vervolging kan plaasvind selfs al word die NVG verder verswak.

AfriForum sal aanhou om voorspraak te maak vir ’n samelewing wat individuele regte prioritiseer en deursigtigheid, verantwoordbaarheid en onpartydigheid binne regeringsinstellings waardeer. 

Soortgelyke plasings